ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die gebulder van kanonne

First published in Die Burger, June 2017

Die Chavonnes Batterymuseum in die Waterfront

Die Chavonnes Batterymuseum is skuins oorkant die kloktoring by die Waterfront

Die Chavonnes Batterymuseum is skuins oorkant die kloktoring by die Waterfront

Die Chavonnes Batterymuseum is skuins oorkant die kloktoring op die Victoria en Alfred Waterfront geleë. Sou jy sowat 300 jaar gelede hier gestaan het, sou hier niks gewees het nie.

Die geskiedenis van die gebou

Die oorspronklike gebou is een van die oudste Europese strukture in Suid-Afrika (die Kasteel die Goeie Hoop is natuurlik die oudste); dis in die vroeë 1700’s gebou en is op ‘n stadium as ‘n hospitaal gebruik toe daar ‘n groot maselsepidemie in die 1800’s uitgebreek het.

Een van die Chavonnes Batterymuseum se kanonne by die Victoria en Alfred Waterfront

Een van die Chavonnes Batterymuseum se kanonne by die Victoria en Alfred Waterfront

Die Kasteel die Goeie Hoop is gebou om Jan van Riebeeck en sy mense teen aanvalle van buite, soos deur ander maatskappye wat ook handel gedryf het, te beskerm. ‘n Aanval van die see af was ‘n groot bedreiging. Die Chavonnes Battery is egter eers ses dekades na Van Riebeeck se aankoms in die Kaap opgerig en was tot 1860 in gebruik.

Met die bou van die Alfred-Dokke in die laat 1800’s is ‘n deel van die Chavonnes Battery afgebreek.

In die 1880’s is ‘n visfabriek ook oor ‘n deel van die Chavonnes Battery gebou.

Eers in die 1990’s is die Chavonnes Battery weer ‘ontdek’ toe die huidige waterfrontontwikkeling plaasgevind het.

Waar kom die gebou se naam vandaan?

Die elfde kommandeur aan die Kaap, Goewerneur Maurits (ook bekend as Maurice Pasque of Markies de Chavonnes), het in 1714 hier aangekom. Hoewel sy oupa Frans was, was Maurits Nederlands. Hy was ‘n ervare soldaat en het terdeë besef dat die Kaap te maklik vanaf die weste aangeval sou kon word.

Oplaas het die Here XVII ingestem om die battery te bou, hoewel dit elf jaar geneem het om te voltooi. Hy het nooit die voltooiing van die projek meegemaak nie – in 1725 is Maurits oorlede en in 1726 is die nuwe battery onthul. Dit het eers as Grote Batterij, Water Casteel, Water Schanz (waterskans) en Mauritius-Battery (‘n woordspeling van sy noemnaam) bekend gestaan, maar in 1744 is dit herdoop na Chavonnes Battery.

Wat is nou in die museum?

Deesdae kan binne-in die Chavonnes Batterymuseum – behalwe vir ‘n versameling kanonne – klipruïnes gesien word waaronder ‘n klipbunker wat deel van die visfabriek uitgemaak het.

Tesame met al die kanonne is daar ‘n ry kanonballe wat van klein tot groot gerangskik is. Dit begin by 2 pond en eindig by 68 pond!

Kanonkoeels - van groot tot klein - by die Chavonnes Batterymuseum

Van groot tot klein

Daar is miniatuuruitbeeldings van ‘n kruitwerkswinkel met ‘n koperbeklede tafel waarop jy met kruit werk om vonke te vermy en ‘n skrootwerkswinkel, kompleet met ‘n tafel met ‘n randjie sodat die skroot nie afrol nie.

Kinders, en grootmense, kan hul verwonder aan al die gereedskap wat met kanonne gebruik is – van sponse van skaapvel aan lang hardehoutstele om die kanonlope mee skoon te vee (gloeiende vonke kon gevaarlik wees) tot spake wat gebruik is om die kanon aan een ent te lig as dit verskuif moet word.

Daar’s kruitskrapers, kruitmate en kruithorings; daar’s affuite, skeppers en lontstokke.

‘n Geelkoperdriehoek – ook bekend as ‘n ‘brass monkey’ – is ‘n raam waarop ‘n piramide kanonkoeëls gepak kon word. ‘n Varkstert – nee, dis nie wat jy dink nie – het ‘n gekrulde ysterhaak gehad wat gebruik is om touproppe te verwyder wanneer ‘n kanon met die hand ontlaai is.

Een van die versameling kanonne by Chavonnes Batterymuseum

Een van die versameling kanonne by Chavonnes Batterymuseum

Behalwe vir die permanente museumuitstalling bied die Chavonnes Batterymuseum op gereelde grondslag internasionale foto-uitstallings aan.

Die Chavonnes Batterymuseum is nou die nuwe tuiste van die Kanonvereniging van Suid-Afrika.

Die Kanonvereniging van Suid-Afrika

Die Kanonvereniging van Suid-Afrika beskryf hulself as ‘n klein groepie kanonentoesiaste wat hulself daaraan toewy om die verlies en verweer van voorlaaierkanonne, wat deel van ons nasionale erfenis uitmaak, te verhoed.

DSC_0016

As jy begin navorsing doen, kom jy agter hoeveel kanonne daar nog in Suid-Afrika behoue gebly het

Staatsorganisasies wy hulself nie hieraan toe nie tensy die kanonne van spesifieke wrakke afkomstig is of in noemenswaardige militêre skermutselinge betrokke was.

Die CAOSA (die Engelse afkorting wat vir Cannon Association of South Africa staan) beywer hulle daartoe om ou kanonne op te spoor, te herbou as nodig, te registreer en laastens op geskikte plekke te laat uitplaas.

Kanonne is al by Kloofnek en Constantianek; op Sir Lowryspas en Dasseneiland; in Houtbaai, Simonsbaai en Melkbosstrand; by Bloemendal Restaurant en in die Tygerberg Natuurreservaat; by die Voortrekker Monument; en by die Chavonnes Batterymuseum in die Waterfront geplaas.

Die kanon by die Voortrekker Monument se naam is Susanna. Dit is ‘n skeepskanon wat uit die negentiende eeu dateer. Susanna het eers vir 35 jaar lank in die voorportaal van ‘n Kaapse skool gestaan voor dit gerestoureer en met nuwe toebehore soos ‘n laaistok, spons en kruitskeppie toegerus is. Met ‘n splinternuwe kanonwa deur ‘n wamaker gemaak het Susanna ‘n nuwe tuiste by die Voortrekker Monument gekry.

Die trotse kanonniers het selfs ‘n kleredragskode: dit bestaan uit ‘n gholfhempie met die CAOSA-kenteken, ‘n kanonniershoed met kenteken, ‘n donkerblou denimbroek waarby ‘n donkerbruin of swart gordel met leersakkie vir kruitpoeier gedra word, en swart skoene of stewels.

By die kanonniers(vereniging) kan jy allerhande interessante dinge leer. Daar word onder andere vertel dat dit ‘n mite is dat kanonne afgevuur is om boere te laat weet sodra groot handelskepe in die Kaapse hawe aangekom het. Volgens oorlewering het die boere dan geweet dat dit tyd is om hul vars produkte in te bring.

Kanonne was wel as deel van die Hollandse opkommandeerstelsel gebruik. Hierdie kanonne is op strategiese plekke geplaas om boere op te roep om te kom help om die Kaap te verdedig, sou dit nodig wees.

Leer, lees en kyk meer by www.caosa.org.za

Kanonne kan besigtig word by:

  • Kasteel die Goeie Hoop, Kaapstad
  • The Noon Gun, Kaapstad – veral om 12h00 as die middaguur-kanon afgeskiet word
  • Die Skeepswrakmuseum, Bredasdorp
  • Die Kruithuis, Stellenbosch
  • Die Vlootmuseum, Simonstad
  • Groote Post Wynplaas, buite Darling aan die Weskus
Die kanon by Groote Post buite Darling

Die kanon by Groote Post buite Darling

Kyk of leer hoe om ‘n kanon af te skiet

Dis ‘n helse slag! Dit behels ‘n lintstok wat oor die buskruit gevee word om die kruit aan die brand te steek. En dan: kaboef!

Kontak die Chavonnes Batterymuseum om te hoor wanneer die volgende kanonskiet plaasvind.

Kyk hoe lyk dit: www.chavonnesbattery.co.za/pages/cannon-firing-2/

Besoek: Chavonnes Batterymuseum en die Kanonvereniging van Suid-Afrika, Nedbank-gebou by die Kloktoring, Victoria en Alfred Waterfront

Daagliks oop van 9h00 – 18h00

www.chavonnesbattery.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 23, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .