First published in Rapport, November 2019
Nooi die Adams na ‘n klub
Boekklubs is ou nuus. Dis in elk geval meer van ‘n vroueding. Op die aande wat San Alleman met haar vriendinne oor boeke – en lewensfilosofeë en hul mans – gesels, is Jan Alleman waarskynlik alleen voor die televisie by die huis.
Toe iemand – ek sal maar die naam weerhou – om ons etenstafel vertel dat ‘n groep bekende skrywers en joernaliste – en ander skarminkels – al jare lank as die Vroueboekeklub vir Mans bymekaarkom, het dit my aan die dink gesit.
Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef Suid-Afrikaanse Adams kort nie redes om bymekaar te kom nie, soms net motivering. Ons praat nou nie van sport- of dooddrinkklubs nie; daarvan is daar genoeg.
Toe tree sinchronisiteit na vore. ‘n Jarelange vriend, Werner Kluyts, noem toevallig dat hy en 22 ander Adams amper twee jaar gelede die Traaiers-whisk(e)yklub begin het. Hy was nog altyd lief vir whisky, maar “ek het nie genoeg pêlle gehad wat dit saam met my wou drink nie”, vertel hy.
Toe Thea-Rita, Werner se vrou, vir hom ‘n boek getiteld “101 Whiskies to Try Before You Die” deur Ian Buxton present gee, is die idee van die whiskyklub gebore.
Aanvanklik was daar 15 klublede, maar geleidelik het daar ‘n paar bygekom. Die Traaiers (hul naam is ontleen aan die titel van hul ‘whiskyhandboek’) kom een keer per kwartaal bymekaar. Dan proe hulle 4 of 5 whiskies – verkieslik verskillende style – wat Buxton in sy boek aanbeveel.
“Op hierdie manier proe ons almal whiskies wat ons nooit self sou koop of miskien nie eers sou oorweeg nie; ons leer ook dat nie alle whiskies van dieselfde tipe noodwendig enigsins dieselfde proe nie. Ons leer ook van mekaar en probeer om ook iets nuuts te leer oor die maak van whisky. Wat lekker is van Buxton se boek, is dat die whiskies wat sy boek haal, nie noodwendig die beste en duurste is nie, maar daar is goeie rede vir elkeen se teenwoordigheid. Party is uiters lekker, ander het ‘n mooi storie en ander weer ‘n belangrike geskiedenis. Die whiskies word by elke geleentheid weer afgestof vir die manne wat vorige ‘vergaderings’ gemis het en ons gaan gereeld terug na van die ou whiskies ter verwysing/vergelyking.”, verduidelik ‘voorsitter’ Werner.
Hy voeg by: “Ek is ‘n emosionele drinker – ek hou van ‘n whisky met ‘n stórie”.
Tot op hede het die Traaiers al sowat 60 whiskies van oor die hele wêreld geproe; die lande, behalwe natuurlik Ierland en Skotland, sluit in Japan, Finland, Amerika, Taiwan, Swede, Kanada, Australië, Nederland en Indië.
Net soos wat die Traaiers se beroepe (‘n dokter of drie, ‘n prokureur, ‘n elektriese ingenieur, ‘n paar IT-fundi’s en iemand wat kraantjies vir wynbokse vervaardig) verskil, verskil hul smaak in whiskies. So ook die voorspellings as hulle sien wat dié aand te proe is.
“Jirre, daai een gaan sleg wees!” gril ‘n ou byvoorbaat. Na ‘n slukkie van ‘n Skotse whisky is die proenota van ‘n ander “die ene moerasgras”. “Nou is my tong dood na hierdie sluk”, kla ‘n whiskytraaier speels.
Dis egter die uitsondering dat ‘n whisky nie redelike algemene byval vind nie.
“Enigiemand oorgeslaan? Met die Nagmaal?” maak die skinker vir die rondte seker. Net een drinker het sy notas oor die aand se keuse van whiskies wat vooraf per e-pos gestuur word, saamgebring. Per slot van sake kan jy proe vir pret of jou smaakindrukke getrou neerskryf.
As veral die Skotse name nie uitgespreek kan word nie, kry die bottel ‘n bynaam. So ook as die meerderheid van die Traaiers besluit ‘n whisky se smaak geval hulle nie. Die “Aardvark” was die slegste whisky waarmee hulle nog lippe natgemaak het. As ‘n nuwe lid aansluit, is dit sy ontgroeningsdop.
Op die aand wat hulle my goedgunstelik toelaat om die klubaand by te woon (geen vroue word gewoonlik by hierdie ‘vergaderings’ toegelaat nie), ontstaan ‘n gemoedelike stryery of een van die whiskies op die proelys selfs ‘n 1 uit 10 werd is. Dis weliswaar die eerste keer wat dit gebeur.
Toe ek my vroeg genoeg uit die voete maak, hoor ek met die uitstap: “In die ou dae sou ons dalk seëls versamel het!” En: “Ons hoor daar is ‘n breiklub in ‘n voorstad hier naby, maar daai manne suip baie.”
‘Gesondheid!’ groet ek.
Die verskil tussen whisky en whiskey
Die Skotte spel hulle s’n whisky en die Iere whiskey. In Amerika word die ‘e’ ook as deel van die spelling gebruik vir whiskey wat in Amerika gemaak word.
Bestel aanlyn: 101 Whiskies to Try Before You Die deur Ian Buxton
Hou asem op in afwagting: De Vry Distilleerdery (www.devrydistillery.co.za) naby Sasolburg in die Vrystaat is in die proses om ‘n enkelmout-sorghumwhisky, met hul eie graan wat hul vermout, hier op eie bodem te maak.
As jy nie whisky drink nie, maar graag ‘n mansklub wil begin:
Werner Kluyts se wenke voor jy die Adamsklub stig:
Recent Comments