First published in Die Burger,February 2019
Kaalgat perskes en uitgedyde vye by Epping-mark
“Lekka, lekka ywe, laat die ghantang nader skywe!, tamaties en ywe vars van die Strand, en baie kiri slam by die hys se kant!”
Dis maar een van die rympies – of venterliedjies – wat in ‘n mens se kop draal as jy aan die Kaapstadse Varsproduktemark in Epping dink. Of op pad is om douvoordag te gaan kyk wát op die mark aangaan.
Dis nie net grepies uit ‘n gedig van I.D. du Plessis en van C. Louis Leipoldt uit my skooldae wat in my kop “rintinkel” nie.
Dis ook die geskerts van vrugteverkopers wat by my aandoen.
Is die perskes wat jy verkoop, soet? Ja, meneer, kyk hoe stil lê hulle!
Wat vra jy vir jou waatlemoen? Niks nie, mevrou, jy kan maar vir hulle vra as jy iets op die hart het!
En Adam Small wat dig oor die vye op die parade: “so ‘n vy, kyk net hoe uitgaswel is hy, van bo tot onner ytgady”.
Op Epping-mark gekom is dit egter nog doodstil en gitdonker voor die hoofgebou. Ek loop mik-mik na die ou perronne waar daar al van vieruur soggens handel gedryf word.
In die ou dae is die groente en vrugte met treine aangery, vertel Oom Pietie de Wet my later in die dag. Die geskommel van die treinwaens het egter die produkte gekneus en weldra het die gebruik van treinvervoer in onbruik verval.
Oom Pietie is al van sy vroeë tienerjare by die mark betrokke. Eers was die Kaapstadse mark waar die Goeie Hoop-sentrum vandag staan, toe in Soutrivier en daarna het dit na Epping digby Goodwood verskuif.
Hy’s nie seker in watter jaar dit gebeur het nie; dis ook nie by die markkantore opgeteken nie, want destyds het die markmeesters gereeld gewissel. Hy’s nou 74; hy was so 18 toe hy op Epping begin het, maak Oom Pietie somme. Dis inderdaad al langer as vyftig jaar wat Epping-mark op die huidige perseel bedryf word, word ek later meegedeel.
Oom Pietie is van Pniel buite Stellenbosch. Hy staan “soggens” eenuur op om so net na twee by die mark te wees. Nee wat, hy’s gewoond daaraan, maak hy dit af toe ek na my asem snak. Hy doen dit immers al dekades lank. Oom Pietie het ‘n unieke lisensie op die mark – hy is ‘n boer én ‘n tradisionele verkoper. Net mooi almal ken hom en kom groet in die verbyloop.
Rondom ons is dit verbasend stil terwyl ons gesels. Net trollies en waentjies tril soos wat dit verby gestoot of getrek word. Plek-plek hoor jy stemme tussen stapels Badenhorst Boerdery Pynappels, boksies aarbeie van Strawberry King, kartondose Bananalandia-piesangs van Mosambiek en hope aartappelsakke van Kookfontein; dis egter gedempte praatjies.
Dis asof jy jou op ‘n ander planeet bevind. ‘n Planeet wat net aan’t rondwoel is as die res van die skiereiland nog slaap. Ek’t donkernag daar aangekom; toe ek na ‘n paar uur buitentoe loop het die dag reeds oopgebreek. Toe is dit spitsverkeer; almal is op pad werk toe, maar by die Epping-mark breek die einde van die werksdag aan.
Soos in Leipoldt se gedig “Die Slamaierwinkel” is daar ‘n “ophoping, uitgesprei hier vir verkoping”, maar dis allesbehalwe “deurmekaar”. As jy nie van beter weet nie, kan dit na georganiseerde chaos lyk, maar op die mark weet almal waar wat is en hoe dinge moet geskied.
Hier word per slot van sake 140 miljoen vars produkte maandeliks verkoop. Dít op ‘n handelsvloer van 36 000 vierkante meter.
Daar is vyf markagentskappe – waarvan RSA Group die grootste is – wat volgens markaandeel op die vloer ingedeel word. RSA Group is verantwoordelik vir 45% van die totale mark. Die ander agentskappe is Subtropico, Fine Bros, Boland Markagentskap en Rhoda’s Markagentskap.
Die markprodukte kom van regoor Suid-Afrika en ook van ons buurlande soos Namibië, Mosambiek en Swaziland.
Op baniere wat uit die plafon hang, lees ek Ceres Fonteintjie Boerdery BK, Deon Steyn BK, JP Visser – Somergroen, Donkerbos, De Keur, Sonop, Bottelfontein en Drooge Vallei Aartappels.
Die Kaapstadse Varsproduktemark is die enigste groot privaatmark in Suid-Afrika. Die varsproduktemarkte in Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein en Durban is munisipale markte.
Daar is 8000 geregistreerde kopers op Epping-mark. Of wag, 8001. My naam is ook daar.
Toe ek sien hul spog dat jy deur ses eenvoudige stappe te volg, binne ‘n paar minute jou eie koperskaart kan kry, moes ek dit terstond toets. Die administrasiekantoor mág maar grootpraat. Dit het inderdaad net enkele minute geduur voor ek my kaart in my hand gehad het.
Nou moes ek net geld in my markrekening gaan deponeer, want slegs beskermde kontant word hier gebruik. Met beskermde kontant word bedoel dat daar nie kontanttransaksies plaasvind nie; jy moet vooraf geld in jou markrekening plaas waarmee jy dan jou groente- en vrugte-inkopies doen.
Die logos op die kartondose sowel as die helder kleure daarvan maak ‘n mens sommer lus om ‘n paar ekstra bokse na jou kattebak te dra.
Bananaworld spog met ‘n palmboom en ‘n oranje son; ZZ2 se rooi en geel bokse met hul eenvoudige dog treffende ontwerp trek die meeste aandag; hartjies knipoog vanaf “ek lief tamaties”-boksies en op “Lekka lekka tamaties” lag tamatiegesiggies terwyl La Maison-tamaties hul opstêrs hou. MlamboUVS se piesangdose is heel gepas goudgeel of heldergroen.
Op die Epping-mark is weliswaar nie “rooi saffraan en bokkoms in ‘n blik” nie, maar “die reuk van knoflokknolle meng” met dié van aartappels vars uit die grond; jy kan “amper proe hoe soet die vye smaak” en ja, daar is ook ‘n “mengelmoes van geure en van rooibont kopdoekkleure”. Dit wil jou “amper mal” maak omdat jy wil próé, omdat jy jou na jou kombuis wil begewe en wil begin kook en prut.
Is dit elke oggend so bedrywig, vra ek vir Geo van Zyl, die besturende direkteur van RSA Group, oor ‘n koffie koppie voor die son nog verrys het.
Tradisioneel was die besigste dag altyd Dinsdag, maar deesdae is dit Maandae én Dinsdae, vertel hy. Woensdae is gewoonlik die stilste. Teen Donderdag begin die kopers vir die naweek beplan; dan tel die besigheid weer op.
Aflewerings geskied 24 uur per dag, voeg hy trots by. So asof hy self die aflaaiwerk doen.
Voedselakkreditasies word nie op die oomblik by die mark gedoen nie. Daar word egter aan planne vir ‘n nuwe markgebou op dieselfde perseel gewerk. Per slot van sake is dit naby verskeie roetes – die N1, N2 en N7 en nie te ver van die R300 nie.
Tans maak die varsprodukteprodusente, markagente, formele en informele kopers, en informele verkopers (laasgenoemde buite die markhoofgebou) op een of ander manier deel van die mark uit. Daar word egter beplan om die straathandelaars aan die buitekant van die mark ook te betrek.
“Gaan kyk ons uitsig oor die berg,” nooi Geo. Ek maak so. En kom agter die dag het reeds buite gebreek.
Met die uitry verbeel ek my Adam Small se “kaalgat perskes blow” vir my ‘n “kissy”. Die dag se “tentjies is vol happiness gapaail”.
How can I sell my organic compost at Epping market
Hi Jan – I went to Epping market for the article but I’m not directly involved with them at all.