ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Weskus – ‘n skatkis van kos

First published in Die Burger, June 2016

Soos die spreekwoord dit uitdruk, die Weskus is 'n skatkis van kos

Soos die spreekwoord dit uitdruk, die Weskus is ‘n skatkis van kos

As jy weer Weskus se kant toe ry, gaan jy genoop wees om ‘n telrympie op te sê. Nie om jouself, of jou kroos, te leer tel nie, maar om by te hou terwyl jy die tien-stop-roetes van West Coast Way verken.

Dit was omtrent ‘n blink-Stefaans-gedagte om roetes, soos die Kultuur-op-jou-bord-roete, in tien stilhouplekke op te deel. Tien maaltye, versnaperinge ingesluit, is te veel vir een dag, maar oor ‘n (lang)naweek kan jy jouself en jou mede-passasiers op die tradisionele smake van die Weskus trakteer.

In plaas vanEen, twee, drie, ’n voet, ’n been, ’n knie” kan jy speel met rymelary soos “Een, twee, drie, bok-kom, oes-ter, bre-die” en “Vier, vyf ses, voëltjies in ’n nes” is nou “Vier, vyf, ses, oesters in ‘n … ahem… nes(sie) met salsa”. “Sewe, agt, nege – besem moet kan vege”  – nee, neurie eerder “die Weskus se (kos)sege”.

Voor jy verder neurie, kyk gou eers hoe om ‘n bokkom te sny: Stap 1 tot 4 op die foto’s hieronder.

In Bokkomlaan langs die Bergrivier in Velddrif (www.velddriftourism.co.za) kan jy by Pelican Trading Post leer hoe om ’n bokkom te skil,  heel bokkoms koop en leer hoe om bokkomrepies, in olie ingelê, soos ansjovis te gebruik. Ken jy van Weskus, ken jy van kuit – dis ook hier beskikbaar.

Die Vishuis se swartbord adverteer engelvis, mossels en garnale. Spesiale disse van die dag wissel van seekossop wat met sjerrie bedien word tot groenboon- of tamatiebredie. Soet Sjiek – ai, sulke mooi alliterasie in Afrikaans, maar ek hoor hul beplan ’n naamsverandering –  is die enigste plek in hierdie geweste wat sewe dae per week oop is.

Trosse bokkoms hang om droog te word na dit in lae in sout gepak was

Trosse bokkoms hang om droog te word na dit in lae in sout gepak was

By Mappie se Vissery – toe met ons besoek – lees ek dat daar snoek, harders en bokkoms (gedroog, repies en skoongemaak) verkrygbaar is. By Bo-Rivier Visserye – oop met ons besoek – is die enigste verskil dat die bokkoms geskil is en hier hang die bokkoms en gevlekte snoek tussen ’n skulpkrans. Ek en Djy spog met Kontreikos en Visgoeters, volgens hul spyskaart, en soms pelikane as tevrede kliënte. Daar’s selfs wyne genaamd Bokkomsous en Weskus Geselligheid op hul rak.

As dit jou eerste besoek aan die Protea Hotel Saldanhabaai is en jy staan by die ingang, sal jy nooit vermoed watter uitsig – visskuite en skepe een kant, oop see ander kant – op jou wag nie. Dié wat weet, spandeer ’n nag hier as dit volmaan is en jy die maan oor die baai sien opkom. Onvergeetlik, sê ene Anna Blom van Stellenbosch wat meer afdraaipaadjies ken as enigiemand anders wat ek al ontmoet het.

Dít het ek nog nie beproef nie, maar hul oesters het my amper van geloof laat verander. Met vars salsa bo-op, tradisioneel met swartpeper, suurlemoen en ’n tikkie Tabasca, ligweg gaar met ’n gesmelte kasie – hulle kén van oesters. Ook van mossels, roosterkoek en klein braaibroodjie-driehoekies. Boonop het hul my hart verower met ’n ry vuurtorings – wat in spieëlteëls weerkaats – in die middel van die tafel.

Die oggendstond het goud in die mond. By Thali Thali Game Lodge (www.thalithali.co.za) word ’n tradisionele Weskus-ontbyt voorgesit:  behalwe wildsvleis met geposjeerde eier en hollandaise-sous, ook groenvye, siterkonfyt, snoekpatee, elandsosaties en skaapwagtersnye boerebrood. Voel jy avontuurlustig daarna, kan jy leer om te boogskiet. Of terugsit en nog ’n emaljebeker koffie bestel.

Saterdagoggende word daar (kos)mark in Hopefield gehou. By die ingang van The Mill Country Fair Market (www.facebook.com/mill.country.fair/) verkondig ‘n swartbord met die intrapslag dat die Hopefielders wie se produkte verkoop word, passievol is. Alles word ongetwyfeld met liefde gemaak en jy word aangemoedig om foto’s te neem en die nuus te versprei.

Teen outydse pryse pak jy ‘n mandjie vol vars groente en eksotiese sampioene; kolwyntjies, kaaskoek, melktert en kaneelbolle; piekalielie en piekeluie; sultanablatjang, gemmerbier, blou toffieappels en laventelsuiker, hoewel produkte – soos pannekoek met spekboomblaartjies – van naweek tot naweek wissel. Om nie te praat van tuisgebakte brode en innoverende pesto’s soos spinasie-en-basilie van die nuwe Moose Padstal in die dorp nie. Alles teen outydse pryse.

Om eerlik te wees – toe ek hoor Carmién (www.carmientea.co.za) gaan rooibostee as pasmaat vir ‘n paar geregte voorsit, was ek maar bra skepties. Toe ek egter by Herons Rest (www.heronsrest-velddrif.com) se boetiekvenue vir intieme troues inloop, het my skeptisisme oombliklik verdamp. Die pragtig gedekte tafels het as hoofversiering glasteepotte waarin verskillende teesoorte in herfskleure gloei, gebruik. Happie-grootte porsies is op Chinese lepels bedien.

Tee is toe nie net ‘n goeie paletverfrisser nie. So is ons geleer: Jy geniet een happie kos, een slukkie wyn en daarna een slukkie tee. Dit laat al die geure met mekaar in aanraking kom. Tee maak juis jou smaakkliere oop.

‘n Happie-grootte rolmops saam met menttee. Groen rooibos met vinkel en anys was die pasmaat van mossels. Rooibos en chai, my gunsteling, het kerrievis tot sy reg laat kom.

Nog was het einde niet. Wildeknoffelsop met organiese groente, snoekdeegrolletjies en nartjiejellie met ment het die pad na ons tafel, en mae, gevind terwyl almal om die tafel besluit het dis nie net reiers wat vrede en genoegdoening by Herons Rest vind nie.

Paternoster verdien eintlik sy eie gourmet-naweek. Ek’t Oep ve Koep in my visier – om die legendariese sjef, Kobus van der Merwe, se maasbankerbokkom met gerookte oester, peer en duineslaai te proe. Ek wil by hom leer wat !nara is en hoe om sabajonie te maak. En van soutslaai en duinespinasie.

 

Een, twee, drie…  tel tot by tien

En hier is sommer tien, vingers om te sien” word eensklaps tien tafels om by aan te sit.

Die tien stilhouplekke van die Kultuur-op-jou-bord-roete is: Hopefield (die Saterdagoggendmark en Moose Padstal); Thali Thali Game Lodge; die Weskus Nasionale Park met die Geelbek Restaurant; Langebaan; Saldanha; Jacobsbaai; Paternoster en Kaap Columbine; Sint Helenabaai en Shelley Point; die driemanskap van Velddrif, Laaiplek en Port Owen; en die Weskus Fossielpark.

Moenie ophou tel nie

 West Coast Way het ook tien-stop-roetes wat op kultuur, die berg(e) en skilderagtige natuurskoon fokus. ‘n Erfenisroete word beplan.

www.westcoastway.co.za/west-coast-way-routes/

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 1, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .