ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Buig die boompie…

First published in Rapport, January 2022

Die skool begin: Help so jou kind

Buig die boompie solank hy nog jonk is.

Dié alombekende sêding het almal al een of ander tyd gehoor hoewel nie almal dit dieselfde vertolk nie.

Vir Graad R- of Graad 1-leerders én hul ouers wag ‘n nuwe avontuur op die eerste skooldag – en die res van die jaar – in 2022.

Vanaf Graad R – asook veral in Graad 1 – leer jong kinders om stap vir stap meer onafhanklik te word. Daarmee saam leer hulle verantwoordelikheid aan.

Verantwoordelikheid is ‘n onontbeerlike lewensvaardigheid, volgens JP Marais, voormalige laerskoolonderwyser, tans skoolhoof van Wes-Kaapland Jeugtrust, buitelugskool van die WKOD. Hy verduidelik dat “verantwoordelikheid, selfstandigheid en selfvertroue so kompleks in mekaar verweef is dat dit moeilik is om dit as individuele lewensvaardighede te isoleer”, maar elkeen is van kardinale belang.

Elke verantwoordelike ouer streef daarna om hul kind in ‘n volronde, gebalanseerde, emosioneel gesonde en verantwoordelike volwassene te sien ontluik. Só gaan jy te werk.

Buig en snoei

Jong kinders leer verantwoordelikheid geleidelik aan.

Die beeld van ‘n buig-my-nie of buksboom illustreer mooi hoe ouers hul “boompies” kan “buig”.

Die inheemse buksboom is regopgroeiende bome met een of meer stamme en hangende takke; die boom groei stadig, maar is gehard. Buksboompies kan in potte geplant asook in ‘n bonsai of in allerhande vorme (byvoorbeeld stokkielekkerboompies) gesnoei word.

Soos ‘n buksboom het kinders hul “stamme” of sterkpunte (en natuurlik swakpunte). So ook hul eie “takke” oftewel karaktertrekke asook voorkeure en afkeure.

Soos wat ‘n boom stadig groei, leer jong kinders in hul vormingsjare onafhanklikheid, verantwoordelikheid en selfvertroue aan.

Die snoeitaak is deel van die verantwoordelikheid van ouerwees.

Die belangrikste ding om te onthou is dat dissipline by die huis begin. Die tweede belangrikste is seker dat ouers nie alles vir hul kinders moet doen nie en so hul strewe na onafhanklikheid wegneem nie.

My eerste tas, my eerste klas

Alles begin met jou kind se eerste skooltas!

Malinda Gerber, ‘n eertydse kindertuinjuffrou met baie ervaring, sê ‘n Graad R- of Graad 1-leerdertjie se eerste verantwoordelikheid is om sélf hul tas van die motor na die klas te dra.

Hul eerste stap na onafhanklikheid begin deur hul mamma te groet, hul tas op te tel en na die klas te stap. Dit bou selfvertroue; moet hul dus nie van die geleentheid ontneem om te groei as klein mensie nie.

Hester Bosman, ook ‘n eertydse kindertuinjuffrou, sowel as ‘n groep grondslagfase-onderwysers van so ver as Calvinia, Vredendal, Knysna, Worcester, Strand en Paarl, voeg by dat kinders hul eie tasse moet pak en self moet netjies hou. Dit moet deel van die vestiging van ‘n roetine uitmaak.

Roetines sowel as grense wat gestel word, laat kinders floreer.

Laat jou kind ook hul tas uitpak as hul smiddae van die skool af kom, vóór hulle kan begin ontspan.

Dit help hulle om te onthou wat die juffrou in die klas gesê het, watter items die volgende dag skool toe geneem moet word, skoolnuusbriewe te oorhandig en huiswerkboekies te laat teken.

Saans voor hul gaan slaap moet hul nagaan dat alles in die tas is wat hul die volgende dag gaan nodig hê.

So maak die kind byvoorbeeld self seker dat daar nie ‘n verrimpelde appel, lekkergoedpapiertjie of vuil snesie in die tas rondlê nie en dat hul sportklere vir die volgende dag onthou word. Dit is ‘n voortbouing op wat hulle geleer het toe hulle kleintyd hul speelgoed self moes wegpak.

Marilize Matthys, ‘n Graad R-mamma, sê haar spruite moet ook as deel van hul oggendroetine hul tasse self na die motor dra.

Pak ‘n koel kosblik

Net soos wat hul verantwoordelikheid vir hul eie skooltasse moet neem, kan jong kinders meer verantwoordelikheid aanleer deur te help om hul eie kosblikke te pak. Laat hulle sommer help om Pappa se kosblik ook te pak!

Só werk julle saam aan ‘n sleurtakie terwyl julle oor die afgelope dag se aktiwiteite gesels.

Laat die jongspan self kies wat op hul toebroodjies gesmeer moet word en watter dag in die week ‘n bederfdag moet wees wanneer ‘n spesiale happie in die kosblik bykom.

Slaap, want die dag kom nader

Om vroeg genoeg te gaan slaap as die volgende dag ‘n “skooldag” is, maak deel uit van ‘n goeie roetine wat jou lewenslank baat. Jong kinders het sowat 10 uur slaap nodig.

Leer jou kind om, vóór daar in die bed geklouter word, hul skool- en sportklere reg te sit sodat niemand vroegoggend hoef rond te skarrel nie. Laat hulle hul eie alarm stel sodat dit voel asof hulle die verantwoordelikheid van betyds wakkerword deel.

Beplan die dag, week en maand

Maak ‘n maklike aftieklysie vir elke dag se gebruik:

  • Skoene is blink
  • Potlode is skerp
  • Tas is gepak
  • Klere is gereed
  • Kosblik is vol
  • Waterbottel is gevul
  • Alarm is gestel

Jong kinders – nie net ouer mense nie – is soms verstrooid of vergeetagtig. Dit help om ‘n doenlysie op die yskas én ‘n maandelikse kalender te hê. Skryf almal in die huis se aktiwiteite neer sodra jy daarvan hoor. Gebruik verskillende kleure vir verskillende gesinslede.

As jy én jou kind weet wat kom, is dit makliker om voorbereid te wees en hoef niemand outomaties alles te onthou nie. Só word die verantwoordelikheid deur almal gedeel.

Die appel val nie ver van die boom af nie

Kinders observeer wat hul ouers doen en leer daaruit, bewustelik en onbewustelik.

Wees in jou optrede ‘n sprekende voorbeeld van iemand wat verantwoordelik optree, maan JP Marais.

As jou kind sien dat jy stokkiesdraai deur nie werk toe te gaan op ‘n dag wat jy niks makeer nie, kry hulle die indruk dat daar niks mee skort nie. Dinge soos te vinnig ry, nie by ‘n stopstraat tot stilstand kom nie en ‘n wit leuentjie vertel as jy nie lus is om ‘n sosiale funksie by te woon nie, dra die verkeerde boodskap oor en kan daartoe lei dat jou manier van optrede nageaap word.

Jy moet ook ten alle tye konsekwent wees, voeg Marais by. ‘n Huisreël wat vandag geld, kan nie oor ‘n dag of twee verslap word omdat jy nie in die bui is om dit toe te pas nie.

Laastens, beaam al die grondslagfase-onnies, is dit onwys om jou kind se onderwyser luidkeels te kritiseer. Ouers en onderwysers moet mekaar ondersteun.

Trippe trappe trone

Dis nie verniet nie dat die rympie lui “Trippe trappe trone, varkies in die bone, koeitjies in die klawer perdjies in die hawer, skapies in die groene gras, eendjies in die waterplas, o, ek wens dat kindjie groter was, om al hierdie diertjies op te pas”.

Daar is min dinge wat jou kind verantwoordelikheid sal aanleer as soos om hul eie troeteldier te hê en te versorg. Nie net moet Kietsie of Woef altyd vars water hê en soggens en saans kos kry nie, maar ‘n goeie skeut liefde moet uitgedeel word.

Jou eie troeteldier is ‘n langtermyn-verantwoordelikheid. Dit help om kinders te leer dat as hulle iets soos ‘n spesifieke skoolaktiwiteit gekies het, hulle dit moet deurvoer. Om op te gee, is nie ‘n opsie nie.

‘n Sagte woord keer die grimmigheid af

‘n Kompliment laat jou kind blom.

Moenie nalaat om jou kind te prys as jy sien hoe hulle meer verantwoordelik begin optree nie. Deur erkenning te gee, bou jy voort op hul verantwoordelikheidsin.

                    *Hoe om jou kind se buitemuurse aktiwiteit(e) te kies*

‘n Graad R- of 1-leerling moenie die heeltyd net met skoolwerk besig wees nie, beklemtoon amper elke grondslagfase-onderwyser wat hieroor gepols word.

Kies een somer- en een winteraktiwiteit of een buitemuurse aktiwiteit per kwartaal, waar dit sport aangaan. Dis genoeg.

Stel ook jou kind aan kultuuraktiwiteite bloot. Hulle weet nog nie regtig waarvan hulle hou nie, waarin hulle goed is en wat alles daarbuite is om te ontdek nie.

Tyd vir speel, soos om sommer net rond te hardloop of iets lekkers te doen, móét ingeruim word.

Identifiseer jou kind se belangstellings en laat hy/sy hul kreatiwiteit en energie op daardie gebied vrye teuels gee en uitleef.

Om ‘n stokperdjie te beoefen waarin die kind self belangstel, is ook van onskatbare waarde.

In ‘n neutedop is die goue reël: Moenie jou kind se skedule oorvol maak met aktiwiteite nie. Dis belangrik dat hulle speel ook.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 19, 2023 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans.