ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ervaar die Zambezi in styl

First published in Rapport, April 2017

‘n Koninklike verblyf in Zambië

Die son sak op die Zambezi

Die son sak op die Zambezi

In een van die mooiste kroeë – hoe platvloers klink dié woord ten aanskoue van soveel swier tesame met speelse dekor soos lampstaanders wat lyk soos paddas in fleurige rokkies –  wat daar sekerlik in die wêreld is, lees ek teen die muur: ‘Beveel my by die vrolike middernagtelike paddas aan’. Soos deur die ontdekker David Livingstone gebesig.

The Travellers Bar het ou leertasse bo-op die houtdrankkabinet gestapel

The Travellers Bar het ou leertasse bo-op die houtdrankkabinet gestapel

Ek wonder net vir ‘n kort rukkie wanneer en onder watter omstandighede Livingstone hierdie woorde sou geuiter het. Dan gee ek my oor aan die klassieke klavierspel – eerder as aan ‘n paddakoor – hier by The Travellers Bar van The Royal Livingstone Victoria Falls Zambia Hotel by Anantara.

In The Travellers Bar is aanhalings van die ontdekker Livingstone en paddalampstaanders

In The Travellers Bar is aanhalings van die ontdekker Livingstone en paddalampstaanders

Die naam van die hotel is ‘n mondvol. Nogal heel gepas as jy aan die maaltye wat jy hier kan geniet, dink. Van garnaalbroodjies op die skemerkelkiedek tot high tea in ‘n spogsitkamer waar Livingstone jou vanaf lewensgrootte skilderye dophou en van kos-en-wyn-pasmaatetes op die restaurantterras tot ‘n Dining by Design-aand onder die Apiesboom waar zebras oor jou skouer kom loer om te kyk wat op die tafel aangaan.

Vanaf die restaurantterras wei ‘n handvol zebras asof hulle ook in een van die hotelsuites ingeboek is. Dit kos die kelners om elke dan en wan ‘n oorywerige toeris te vermaan: “Pasop, die zebras is wild. Hulle hou net van die groen grassies op ons uitgestrekte grasperke. Moenie nader staan nie, al sal dit ‘n mooi selfie wees om aan jou vriende tuis te stuur.”

Zebras wei sommer reg voor die restaurantterras

Zebras wei sommer reg voor die restaurantterras

Die Dining by Design-konsep is uniek aan Anantara Hotels. ‘n Romantiese atmosfeer word, gewoonlik, in die buitelug geskep waar ‘n spesiale viergangete bedien word. Ons tafel van vyf is bederf met bloukaassoufflé met Thelema Sutherland Sauvignon Blanc, hoenderlewertjies met komynbrood en kruie-suurlemoenbotter met Rupert & Rothschild Chardonnay, koningklip met Bein Little Merlot en sjokoladetert met geroosterde amandels en karamel waarby Vondeling Baldrick Shiraz bedien is.

Selfs na so ‘n ete het ons ons – weereens – na The Travellers Bar begeef, want dit sou ‘n skande wees om nie ‘n aand in hierdie atmosferiese kroeg met sy stapels ou reisigerstasse af te sluit nie.

As jy jouself eers oorgegee het aan die stylvolle weelde, is jy soms effens onwillig om jouself daarvan weg te skeur. Maar watwou! Vanaf ‘n besprekingstafel op die hotelstoep kan jy verskeie ekskursies reël wat belewenisse bied waaroor jy nog lank na die tyd sal praat.

DSC_0285

Die helikoptervlugwag!

Die Victoria-Watervalle is indrukwekkend of jy dit nou vanaf Zimbabwe of Zambië se kant sien. Jy snak egter nog meer na jou asem as jy dit vanuit ‘n helikopter beskou en die omvang – die waterval is 1 717 meter breed en die gemiddelde hoogte is 92 meter – daarvan besef. As die water sterk loop, vloei ‘n derde van ‘n miljoen kubieke meter per minuut oor die rand.

Met 'n vroegoggendwandeling loer klein en groot apies vir ons

Met ‘n vroegoggendwandeling loer klein en groot apies vir ons

Vanaf die hoteltuin kan jy binne ‘n paar minute tot by die Victoria-waterval loop. Na Livingstone op 17 November 1855 na ‘n kanovaart vanaf ‘n eilandjie dié waterval gesien het, het die buitewêreld ook daarvan te hore gekom.

Vanaf die sondek – ek beveel die pienk jenewer-en-tonikum sterk aan – kan jy “die rook wat donder” of Mosi-oa-Tunya, die oorspronklike naam van die Victoria-waterval, sien. Gebruik die deinserige rookkolom sommer as verskoning om ‘n tweede rondte te bestel.

Daar’s iets aan die Zambezirivier wat ‘n mens se hartsnare roer. Die Zambezi, die natuurlike grens tussen Zambië en Zimbabwe, is die vierde grootste rivier in Afrika. Volgens oorlewering beteken die naam “plek van die bote”. Waar die Zambezi egter lui-lui voor die The Royal Livingstone Victoria Falls Zambia Hotel by Anantara verbyloop – jy kan ‘n klip in die water gooi sou die lus jou pak – is daar egter net seekoeie wat af en toe oopmond gaap en dan weer in die water terugsak.

‘n Vaart op die Zambezi terwyl die son sak, sal jou vir altyd bybly. Die African Queen (of African Princess) kruie stadig aan terwyl allerhande snoepgoed en drankies – die plaaslike bier, Mosi Lager, is nie sonder rede gewild nie – asof uit die niet verskyn.

Op ons vaart het ons meer as een trop olifante gesien wat kom water drink of hulself kom afspuit het. Ons het naby seekoeie verbygevaar en op die oewer was ‘n krokodil so lank soos ‘n viertrekvoertuig. En dan is daar natuurlik nêrens anders ‘n sonsondergang soos díé in Afrika nie. Net soos jy dink die skouspel is oor, verskyn skakerings van oranje wat geleidelik verdiep na pers.

The Royal Livingstone dink aan alles - selfs 'n sambreel teen 'n motreentjie op die brug wat Zambie en Zimbabwe verbind

The Royal Livingstone dink aan alles – selfs ‘n sambreel teen ‘n motreentjie op die brug wat Zambie en Zimbabwe verbind

Gelukkig het ons die treinrit, The Royal Livingstone Express, na ‘n volgende aand laat oorstaan. Daar’s meriete daarin om die lekkerte uit te rek. Ook om eers weer in jou kamer te gaan uitstrek en die apies in die bome daarbuite dop te hou.

Die vyfgangete op The Royal Livingstone Express – ‘n ouwêreldse trein – was een van my hoogtepunte van die wegbreektyd in Livingstone, Zambië. Jy stap met ‘n rooi tapyt langs om die trein te bestyg – o, so gepas, voel dit – en na jy skaars in sagte gemakstoele neergesyg het word vonkelwyn bedien.

Die trein tjoekepakke na die brug wat Zambië met Zimbabwe verbind en stop vir ‘n fotoneemsessie net mooi waar daar staan: ‘Jy betree nou Zimbabwe’. Hier kan jy uitklim terwyl die lokomotief dramaties stoom uitblaas sodat jy na die tyd vir almal by die huis kan wys waar jy was en wat jy beleef het.

Tydens die ete sit jy in ‘n houtpaneeltreinwa van vergange dae aan; daar’s Art Deco-lampies bo elke tafel; jy drink uit kristalglase terwyl die trein stadig sakkepakke. Dis ook die kokke van The Royal Livingstone wat vir hierdie maaltyd regstaan.

Soos elke ander maaltyd was dit ‘n groot bederf.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 7, 2019 by in Afrika.