ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Wat ons in ‘n woestyn geleer het

First published in Rapport, May 2020

Moenie ‘n koronamouna wees nie!

Woestynuitstappies het die Saoediese inperking vir Ilse en Pieter Zietsman draagliker gemaak

Woestynuitstappies het die Saoediese inperking vir Ilse en Pieter Zietsman draagliker gemaak

 Voel jý al inperkbeserk? Ly jy reeds aan grendelgriep omdat jy moeg is vir isolasie?

Moenie ‘n koronamouna wees nie! Verlustig jou eerder in die Afrikaanse nuutskeppings wat die ronde doen.

Lees dan verder hoe dit voel om vir twee jaar – darem met naweekwegbreke en vakansies – in ‘n woestyndorp in Saoedi-Arabië ingeperk te wees. Heeltemal sonder wyn! Of laat ek bieg, soort van sonder wyn…

As jy onder inperking in Tabuk, Saoedi-Arabie geleef het, is grendeltyd in Suid-Afrika vir jou maklik

As jy onder inperking in die Midde-Ooste geleef het, is grendeltyd in Suid-Afrika vir jou maklik

Saoedi-Arabië is ‘n droë land. Alkohol word nie binne die landsgrense toegelaat nie. Alkohol word nóóit in dié Midde-Oosterse land verkoop nie. Behalwe onwettiglik natuurlik.

Dis nie die afwesigheid van wyn wat my en ‘n paar vriende tydens die huidige grendeltyd aan ons werksverblyf in Saoedi-Arabië laat dink het nie. Dis die inperking self; dis hoe ons dit onderskeidelik hanteer en watter invloed dit op ons het, of eerder nie het nie.

Toe klagtes na die eerste week op sosiale media begin opdoem, het dit my aan die dink gesit. Waarom het dit nie juis ‘n effek op my nie, wat juis my energieskoppe kry as ek met mense omgaan?

Soos wat tyd verloop, het herinneringe aan die twee jaar wat ek in Tabuk, ‘n woestyndorp in die noordweste van Saoedi-Arabië, deurgebring het, al meer na vore getree. Boodskappe van mede-Suid-Afrikaners wat ook in die vroeë 2000’s daar gewerk en woon het, het dit beaam: die covid-19-inperking is veel minder van ‘n uitdaging as wat dit vir baie ander is.

Met tyd op ons hande het boodskappe heen en weer gevlieg. Wat dink jy? Hoe voel jy? Onthou jy nog…

Wat die meeste uitstaan is dat daar in Saoedie-Arabië geen vermaak was nie. Dis nou behalwe inkopies doen! Geen kuns- of fliekteaters, geen sportbyeenkomste  nie. Sover dit restaurante aangaan, was die meeste slegs vir mans. Waar vroue wel toegelaat is, moes ‘n egpaar in ‘n toe hokkie met ‘n deur sit. Geen gemengde groepe is volgens landswet toegelaat nie; slegs ‘n getroude egpaar op hul eie, wat boonop hul huweliksertifikaat, in Arabies vertaal, op hulle moes dra.

Ons kon darem braai! Van die ander internasionale werkers het na die Suid-Afrikaners verwys as “daardie snaakse mense wat altyd buite by ‘n vuur sit”, het ons later gehoor.

Selfs leesstof was nie vrylik beskikbaar nie.

Ek het skoolgegee by die Britse Internasionale Skool van Tabuk. Die leerlinge was kinders van mediese personeel van die NWAFH (North West Armed Forces Hospital). Omdat die weermag indirek my werkgewer was kon ek die klein bibliotekie by die ontspanningsentrum op die weermagbasis benut. Dit was ál plek waar Engelse boeke beskikbaar was.

Barbara Hatfield, ‘n Suid-Afrikaanse verpleegster wat by die Tabuk-hospitaal werksaam was, vertel hoe sy, soos ek, so veel boeke moontlik in haar tas gepak het as sy na die Midde-Ooste gevlieg het. Ons moet nog uitsluitsel bereik oor wie die hardste gebid het dat die Saoedi-Arabiese doeane nie ons leesgoed afvat wanneer hulle ons tasse inspekteer nie.

Toe haar kontrak tot ‘n einde gekom het, het Barbara al haar eie boeke aan die Tabuk-biblioteek, wat net deur Westerlinge besoek mag word, geskenk.

'n Mens doen snaakse dinge as jy ingeperk is; ek het plekke waar ek al was, op ons sitkamermuur gestensil

‘n Mens doen snaakse dinge as jy ingeperk is; ek het plekke waar ek al was, op ons sitkamermuur gestensil

As jy in Saoedi-Arabie ingeperk is, plak jy jou kombuismure met tydskrifprentjies van rooipepers, tamaties en suurlemoene uit

As jy in die Midde-Ooste ingeperk is, plak jy jou kombuismure met tydskrifprentjies van rooipepers, tamaties en suurlemoene uit

Ek het my ingesmokkelde tydskrifte vir myself gerantsoeneer, want dit sou maande duur voor ek weer nuwes kon kry. Tydskrifte is, soos baie ander dinge, as haram (verbode) beskou omdat daar prentjies van vroue binnein is.

Wil Lemmer en Pieter Zietsman, onderskeidelik die vrugteproduksiebestuurder en projekbestuurder byTADCO (Tabuk Agricultural Development Company), sê hulle het net mooi enigiets gelees waarop hulle hul hande kan lê. Die Suid-Afrikaanse mans wat by dié landboumaatskappy in diens was, het onder mekaar reis- en motortydskrifte en boeke uitgeruil. Verder het die Arab News, die grootste Engelstalige dagblad in die Midde-Ooste, ons op hoogte van sake gehou. Ons het dit spottenderwys Die Groen Waarheid genoem omdat die buiteblaaie liggroen was.

Om tydens Suid-Afrika se huidige inperkings steeds die daaglikse koerant of tydskrifte by die hoekkafee te kan koop, verskaf my eindelose genot.

Terug by die wyn. Soos reeds genoem, is alkohol onwettig in Saoedi-Arabië.

‘n Boer maak ‘n plan, lui die spreekwoord mos. Sommige ‘boere’ het druiwesap en gis gebruik om – in streng geheimhouding – hul eie wyn te maak. Ek het selfs ‘n sandpatrys hoor fluit dat ‘n landgenoot uit-die-boks gedink het en regte, egte wyngis en houtsaagsels vir die maak van wyn in speserypotjies ingesmokkel het. Vra my niks meer hieroor nie.

Die Zietsmans, synde Bolanders wat altyd wyn in die kas het, het nog nie nodig gehad om sulke planne weer in die lewe te roep nie. Will, wat nou in Spanje woon, sê wyn en bier word steeds tydens die Spaanse inperking verkoop.

As jy baie waaghalsig was en die ‘regte’ mense geken het, kon jy ‘n bottel sidiqi teen ‘n stywe bedrag (terwyl jy hoop dis nie ‘n grendelswendel nie) koop. Sidiqi (dit beteken ‘vriend’; mense praat sommer kortweg van sid) kan die beste beskryf word as Arabiese witblits. Ek vermoed die meeste mense drink dit net een keer…

Wil Lemmer toets 'n waterpyp op die strand uit; sigarette en waterpype was orals beskikbaar

Wil Lemmer toets ‘n waterpyp op die strand uit; sigarette en waterpype was orals beskikbaar

Nie een van ons is rokers nie. Sigarette en waterpype was wel orals vrylik beskikbaar.

Sover dit sport aangaan, was ons meestal op sofajoga (strek jou bene op die rusbank) aangewese. Ons kon wel in ons woonkomplekse rondloop solank ons nie by die hek uitgegaan het nie.

Pieter, wie se sport en passie visskiet is, kon darem oor naweke (Donderdae en Vrydae!) in die Rooi See duik. Ons twee en Wil het amper elke naweek óf by die see gaan kampeer óf in die woestyn gaan slaap.

Barbara kon nie, soos by die huis, gaan draf of roei nie. Die swembad by die ontspanningsentrum op die weermagbasis, was toe haar redding. Tydens die begin van die huidige inperking, toe dit nog warm genoeg was, het sy haarself aan ‘n tuinkruik vasgebind en op een plek in haar piepklein swembadjie geswem, lag sy terwyl sy dit oorvertel.

Die Suid-Afrikaners in ons groepie het elke naweek of in die woestyn of op die strand gaan kamp, juis om minder ingeperk te voel

Om in Saoedi-Arabië te werk en woon, is ‘n enorme uitdaging opsigself. Wat dit nóg moeiliker maak, is dat jy vir lang tydperke aaneen nie jou geliefdes sien nie. Selfoonkommunikasie was destyds, veral aan die begin, baie onbetroubaar.

Nisha Mohanlall van Durban, wat saam met my skoolgegee het, sê vir haar is die moeilikste aspek van die huidige grendeltyd dat sy vir so lank nie haar familie en vriende kan sien nie. Die jare wat hulle in die Midde-Ooste deurgebring het, het hulle egter goed daarop voorberei!  Sy wys ook daarop dat die tyd in Tabuk sonder enige finansiële bekommernisse was, iets wat nie buite rekening gelaat moet word nie.

Die langste tydperk wat Barbara nie haar kinders gesien het nie, was 11 maande waartydens sy Saoedi-Arabië nie kon verlaat nie!

20200814_165929

Diana Kayal was my beste vriendin in die woestyn; sy het na ons terugkeer in Suid-Afrika kom kuier en die weersiens was groot

Diana Kayal, ‘n Lebanese dokter wat my beste vriendin in Saoedi-Arabië was, herinner my daaraan dat ons juis hegte vriendskappe gesmee het omdat ons totaal op mekaar aangewese was. Soos nou wêreldwyd gebeur, het ons vir mekaar uitgekyk en gehelp waar ons kan.

Toé het ons omstandighede ons nie ondergekry nie; ons sal sorg dat jou ma se hoes (!) ook nie nou daarin slaag nie!

‘n Skrale troos is dat my paspoort veilig in die huiskluis nestel. In Saoedi-Arabië neem jou werkgewer met jou aankoms summier jou paspoort af. Jy kry dit eers weer terug as jy toestemming kry om die land te verlaat.

Bid jou aan! Nóú kan jy – as vrou – darem na die supermark ry. Nie ek, Barbara, Diana of Nisha mag bestuur het toe ons in Saoedi-Arabië gewoon het nie. Toe was bestuur vir vroue nog verbode; in 2018 is die verbod vir die eerste keer gelig.

 

6 comments on “Wat ons in ‘n woestyn geleer het

  1. Tannie Frannie
    August 14, 2020

    So interessant – watter avontuurlike lewe!

  2. Auriel
    August 15, 2020

    I loved this article and particularly because it has such pertinence to the lockdown pickle we are in and puts it all in perspective. Word press won’t let me comment on the site itself.

    • ilsez
      January 13, 2021

      Auriel, and so it continues. Still. Feels unreal. Lockdown pickle indeed. Apart from that it has become so much closer to home. Glad to know you are safe.

  3. antjievandeventer
    August 20, 2020

    Iets interessant. Ek het paar weke gelede n ou van Saudi, Irak en Indië hier gehad. Ek het vir hulle melkkos gemaak en ALMAL het gesê hul het n soortgelyke dis by die huis. Party maak dit met rys ens. Geniet julle kos travels by die huis!

    • ilsez
      August 20, 2020

      Antjie, ons lees die interessantste goed raak. Dis nou met ons kosmaak-aande. Ek het vandag eers daai fantastiese lienk wat jy vir my gestuur het, vir my kookmaatjies aangestuur. Dit was die lienk oor international cuisine. Ons het eergistraand gewonder watter lande eet almal gaar piesang! Ons het volgende 3 lande getrek… wonder wanneer iemand Saudi gaan trek….

  4. ilsez
    January 15, 2021

    Ek dink daar was dele v Saudi wat te avontuurlik was, Tannie Frannie!

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 14, 2020 by in Midde-Ooste and tagged .