ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Is dit ‘n meerkat? Nee – dis ‘n witkwasmuishond!

First published in Die Burger, March 2019

Die muishonde (of ‘celebs’) van die Agulhas-gemeenskap

Eendag was daar ‘n oop erf in Kaap Agulhas. Eintlik is daar baie oop erwe in Agulhas, maar dit was nie sommer enige erf nie. Dié erf was spesiaal genoeg vir ‘n kolonie van witkwasmuishonde om dit hul tuiste te maak.

Die erf is digby huise, maar ook neffens ‘n uitgestrekte fynbosgebied.

Eers was daar net een witkwasmuishond, toe was hulle ‘n paartjie; daarna het kleintjies bygekom tot daar vyf in die muishondkolonie was. ‘n Paar maande later het twee weggebreek. Vir langer as ‘n jaar was daar net drie en net na Nuwejaar het ‘n nuwe babamuishondjie sy/haar opwagting gemaak.

Die eerste witkwasmuishond het klaarblyklik weggebreek van ‘n groterige kolonie ‘n paar straatblokke nader aan die see.

Witkwasmuishonde woon gewoonlik in kolonies van tussen 5 en 10 saam. In ‘n kolonie is gewoonlik ‘n mannetjie en ‘n wyfie en hul jongste kleintjies. Soms is daar ook individuele witkwasmuishonde by wat op een of ander wyse met die kolonie geassosieer is.

Die witkwasmuishond (Cynictis penicillata) kom in groot dele van Suider-Afrika voor. Die witkwasmuishond word ook die geelmuishond (in Engels die yellow mongoose) genoem.

In Suid-Afrika kry ons ook onder andere die swartkwasmuishond, die gebande muishond en die stinkmuishond.  Swartkwasmuishonde en stinkmuishonde is gewoonlik alleenlopers; witkwasmuishonde en gebande muishonde is tropdiere of groepdiere.

Kiertsregop soos 'n meerkat, maar witkwasmuishonde is nie meerkatte nie

Kiertsregop soos ‘n meerkat, maar witkwasmuishonde is nie meerkatte nie

Die witkwasmuishond lyk baie soos ‘n meerkat; hul liggaamstaal – veral as hul kiertsregop staan en die omgewing rondom hul bespied – stem ook baie ooreen met die liggaamstaal van ‘n meerkat.  ‘n Witkwasmuishond is  egter nie ‘n meerkat nie alhoewel sommige mense hulle verkeerdelik rooimeerkatte noem.

Volgens Wikipedia is daar sowat 12 subspesies van die witkwasmuishond. Die verskillende subspesies verskil waar dit grootte,  kleur, lengte van hare en lengte van stert aangaan.

Die witkwasmuishonde is nie kleine muise met grote ore nie, eerder kleine ‘muise’ met grote sterte.  Aan die punt van hul stert is ‘n wit ‘tossel’.

In die suide van Suider-Afrika is witkwasmuishonde gewoonlik groter en spog hulle met ‘n geelbruin pels; in die noorde van Suider-Afrika is hulle kleiner en hul pels is geelgrys. In die suide het hulle langer hare en lang sterte met wit punte; in die noorde is hulle hare en hul sterte korter.

Die witkwasmuishonde van Kaap Agulhas word druk besoek deur diegene wat weet waar hulle is. Plaaslike inwoners en toeriste ry gereeld verby om hul manewales dop te hou. Die muishonde is noual gewoond aan verkeer en steur hulle nie aan motors nie.  Jy hoef ook nie muisstil te sit as jy jou verkyk aan hul kaskenades nie.

Die meeste kere as ‘n mens daar stop is die muishonde aan die speel. Hulle bollemakiesie, hulle jaag mekaar, hulle spring bo-op mekaar en hulle glip in by een tonnel en ‘n entjie verder loer hulle by ‘n ander een uit. As hulle verbete met hul pootjies in die grond grawe, lyk hulle kompleet soos strokiesprentkaraktertjies.

‘n Mens kan duidelik uit hul interaksie aflei dat hul sosiale diertjies is. Hulle blyk ook baie aktief in die dag te wees; in die nag word hulle min bespeur, maar soms soek hierdie soort muishonde ook in die nag kos.

Ek het selfs al gesien hoe die dapperste witkwasmuishond regop voor ‘n glasskuifdeur van ‘n nabye huis staan om te loer wat binne aangaan.

Ek wonder wat gaan hierbinne aan...

Ek wonder wat gaan hierbinne aan…

Witkwasmuishonde grawe hul eie gate en tonnels, maar soms neem hulle die blyplekke van waaierstertgrondeekhorings en stokstertmeerkatte oor. In sommige verspreidingsareas bly die drie spesies soms saam in dieselfde tonnels en gate.

Kaap Agulhas se witkwasmuishonde se tonnelstelsel het oor die afgelope twee jaar baie uitgebrei. As jy gereeld gaan loer watter kaperjolle hulle uithaal, kan jy agterkom dat die ‘muisneste’ waar hulle skielik kop uitsteek of induik oor ‘n al groter gebied versprei is.

Soms sien jy hulle honderd meter of verder in die straat af loop; ander kere doen hulle inspeksie in vakansiegangers of permanente inwoners se tuine. Hierdie groepie is glad nie inkennig nie.

Witkwasmuishonde eet insekte, muise en voëls. Hulle hou ook van voëleiers.

‘n Mens kan net nie moeg raak daarvan om Kaap Agulhas se witkwasmuishonde te sien hop en spring terwyl hulle insekte oor die aangrensende erwe jaag nie. Soms is daar ‘n gemoedelike stoeiery oor ‘n happie.

Witkwasmuishonde is stil diertjies, maar tydens so ‘n skermutseling het ek al gehoor hoe een of beide van hulle piepskree. Soms word daar ook ‘n sagte waarskuwende grom geuiter.

Ek het selfs al gesien hoe een van die diertjies ‘n lang akkedis stukkie vir stukkie inryg.

As iemand bereid is om vir jou te sê waar Agulhas se muishondkolonie is, neem jou kinders of kleinkinders saam. Moenie hierdie keer die muismis uit die peper hou nie (die kinders uit die grootmense se geselskap hou nie); dit sal vir hulle fassinerend en leersaam wees asook ‘n liefde vir die natuur kweek.

Die mense wat naby bly, is baie beskermend teenoor ‘hul’ muishonde. Besitlik ook.  Die muishonde se bure maak seker dat niemand hulle probeer nader of met hul daaglikse aktiwiteite inmeng nie.

Gedurende 2018 het daar ‘n voertuig op die witkwasmuishonde se erf kom stop en strikke gestel. Genadiglik is die voertuig opgemerk.

Die telefoonlyne na die munisipaliteit – daar was ooggetuies wat aangevoer het dat dit ‘n munisipale voertuig was – witwarm gebel. ‘n Diereliefhebber het die strikke gaan verwyder.  Die gemeenskap was ontstoke en ontsteld.  Die inwoners het beurte gemaak om regdeur die dag te gaan kyk dat die muishonde veilig en onversteurd is. Gelukkig was dit ‘n eenmalige gebeurtenis.

Witkwasmuishonde kan help om die hoeveelheid insekte en knaagdiere te beheer.

Kaap Agulhas se witkwasmuishonde is allesbehalwe so gewild soos die spreekwoordelike muishond op ‘n bruilof. Hulle is uiters geliefd onder die grootste deel van die plaaslike gemeenskap en hulle het ontpop as een van die toeriste-aantreklikhede van die omgewing. Daar gaan nie ‘n dag verby wat daar nie ‘n voertuig of drie stilhou nie.

Interessante feite oor witkwasmuishonde

  • ‘n Mens kan nie sommer onderskei tussen die verskillende geslagte nie. Hulle lyk eenders.
  • Paring duur vir 30 tot 60 sekondes per keer. Die wyfie is vir tussen 42 en 57 dae dragtig.
  • Twee tot vyf kleintjies word op ‘n slag gebore.
  • Daar word geglo dat witkwasmuishonde hulle sterte gebruik om met mekaar te kommunikeer.

 

4 comments on “Is dit ‘n meerkat? Nee – dis ‘n witkwasmuishond!

  1. Tannie Frannie
    June 21, 2020

    Dis nou interessant! Baie bly die gemeenskap hou wag oor hulle.

  2. ilsez
    July 11, 2020

    Daar was al ‘n insident waar daar slagysters gestel is, Tannie Frannie, maar die gemeenskap het baie vinnig toegetree. Die munisipaliteit se voertuig is daar gesien, hoewel hulle dit ontken het. Die witkwasmuishonde is steeds veilig en bly oulik!

  3. mroux2
    March 4, 2021

    Ek geniet jou blog vreeslik. Vandag daarop afgekom toe ek inligting soek oor Soetendalsvlei… Stel baie belang in die geskiedenis van Strandveld en Agulhas omgewing. Oom Piet Prentjies se artikel ook briljant!! Sien uit om meer te lees…

  4. ilsez
    April 17, 2021

    Baie dankie mroux2! Jammer ek het so lank gevat om te antw; ek moet bieg ek het gedog ek het al geantw. Ja, ek ken vir Piet van As/Piet Prentjies – hy het tonne stories ook! Die Strandveld is na aan my hart ook; ons het ‘n huis op Agulhas so ek kom baie hier.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 20, 2020 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .