ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Serwië is nuwe speelplek vir toeriste

First published in Rapport, April 2018

Op pad in Novi Sad en ander dele van Serwië 

Skildergraffiti pryk op van die vervalle geboue

Skildergraffiti pryk op van die vervalle geboue

Tot redelik onlangs het ‘n mens oorlogsbeelde wat met allerhande grusaamhede gepaardgaan, opgeroep as jy hoor dat van Serwië gepraat word. Serwië het – na die verbrokkeling van Joego-Slawië – in 2006 ‘n onafhanklike land geword.

Serwië is nie naastenby so ‘n gewilde toeristebestemming as Kroasië en Montenegro nie. Die rede hiervoor is deels omdat Serwië landgeslote is m.a.w. hulle het geen kuslyn nie.

‘n Onlangse besoek het my laat besluit dat dit eintlik ‘n bestiering is, want dit beteken dat daar nie ‘n toeloop van toeriste is nie;  pryse is laag genoeg sodat Suid-Afrikaners hulself kan bederf sonder om hul sente te tel en die Serwiërs waardeer dat jy die moeite gedoen het om hul land te besoek.

Die Ou Stad of Stari Grad van Novi Sad het 'n swetterjoel straatjies en stegies om te verken

Die Ou Stad of Stari Grad van Novi Sad het ‘n swetterjoel straatjies en stegies om te verken

Serwiërs spot graag met hulself. Hulle drink net melk as hul geborsvoed word; hulle drink net tee as hulle siek is. Hulle eet net hoender as laasgenoemde siek is en verkieslik geslag moet word of as hulle die dag werklik olik voel. Hulle glo dat Serwiese adellikes in die Middeleeue goue eetgerei gebruik het toe Westerlinge nog met hul hande geëet het. Dít lees ek in ‘A Guide to the Serbian Mentality’ deur Momo Kapor wat voor sy dood in 2010 jare gespandeer het om die mentaliteit van Serwiërs te bestudeer.

Serwiërs lag maklik en is trots daarop om goeie diens te lewer wat jou na die land wil laat terugkeer.

Hoewel baie mense nie Engels magtig is nie, is die meeste gretig om te kommunikeer.

Dit het telkemale gebeur dat ‘n mede-passasier – ons het oorwegend van treinvervoer gebruik gemaak – spontaan naderskuif om te help vertaal sodra ‘n gesprek aangeknoop word. Dan het hulle verduidelik dat daar ‘nie geld in Serwië is nie’, dat Tito (Josip Broz Tito was die leier van die Sosialistiese Federale Republiek van Joego-Slawië waarvan Serwië deel was) ‘n ‘slegte man’ was óf dat daar ‘meer geld in omloop’ was toe Tito nog daar was’ en merendeels dat die land ‘kapoet na Tito’ is.

Uit die treinvensters sien ons dat die mense in die platteland maar arm is en dat baie hul eie groentetuine  en –beddings bewerk; daar is min diere te sien, maar papawers groei welig in die veld en landerye.

Novi Sad is net soos ons daarvan hou

Ons blyk nie al mense te wees wat ons hart op Novi Sad verloor het nie

Ons blyk nie al mense te wees wat ons hart op Novi Sad verloor het nie

Novi Sad is die ‘kulturele hoofstad’ van Serwië en is bekend vir hul musiekfeeste wat deur honderde duisende mense van regoor die wêreld bygewoon word.

Dele van Novi Sad is maar vervalle

Dele van Novi Sad is maar vervalle

Met ons aankoms by Novi Sad-stasie lyk die strate en geboue egter maar vervalle en tipiese verbeeldinglose woonstelblokke wat onder sosialistiese bewind algemeen was, staar ons in die gesig. Daar is nie ‘n kitsbank op die stasie nie en dit kos ons tasse sleepdra teen die trappe op, want daar’s ook nie ‘n roltrap in sig nie.

Die eerste aangename verrassing is ‘n vriendelike taxibestuurder wat vrá of ons bereid is om drie euro vir die rit na ons voorafbespreekte hotel te betaal. Wáár in die wêreld kry ‘n mens nog billike taxi-vervoer, wonder ons, behalwe hier?!

Dis een van die enkele kere wat ons in euro betaal het. Die Serwiese geldeenheid wat meestal gebruik word, is die dinar: R1 is sowat 7 dinar werd.

Stari Grad is die stadskern en dit beteken Ou Stad.

Ons bly in Hotel Veliki wat net twee minute se stap vanaf Dunavska-wandelhal is. In Dunavska  en in die omringende strate en stegies kan jy ure – indien nie dae nie – verwyl. Daar’s meer sypaadjiekafees as wat jy kan tel; daar’s boek-, heuning- en ikoonwinkels; daar’s wynkroegies en orals is kerke, die een mooier as die ander.

Die geboue is in verskillende kleure geverf en baie het gewelfde ingange wat na binnehowe lei wat groot genoeg is om ‘n paar restaurante (of klerewinkels) te huisves.

Trg Slobode (Vryheidsplein) is die grootste plein in die stad. Die geboue, waaronder die Stadsaal en die Katolieke Kerk van Mary wat op die plein uitkyk, is só mooi dat dit voel asof jy jouself nie van die plein kan wegskeur nie.

In die middel van Vryheidsplein is ‘n bronsbeeld van Svetozar Miletic, ‘n voormalige burgemeester van Novi Sad en ‘n Serwiese politieke leier. Toe ‘n opgeskote seun sien dat ek ‘n foto van die beeld neem, tree hy spontaan weg en vra om verskoning dat hy my uitsig versper het. Hier geld outydse maniere nog, knik ek ingenome.

Vanaf die Vryheidsplein mik jy vir die Donau-rivier om die Petrovaradin Fort aan die oorkant te besoek. Dié fort is op die enigste heuwel(tjie) in Novi Sad. Die kloktoring lyk so ‘n bietjie na ‘n buksie-vuurtoring as jy aangestap kom.

In Serwië gaan oud en jonk kerk toe en dis nie net op Sondae nie. Ek verkyk my aan die mense wat na afloop van ‘n kerkmis verby my loop: party is in sweetpakke geklee, ander is pynlik netjies uitgevat, hier skuifel-skuifel een voetjie vir voetjie by die trappies af en net ‘n entjie verder loop ‘n jong vrou in spykerhakke met veerligte tred verby. Amper al die vrouens dra onvleiende, outydse sykouse van ‘n paar dekades gelede wat lankal nie meer by ons op enige winkelrak gevind word nie.

Serwiërs spog dat hul 30 tradisionele geregte het wat almal bone as hoofbestanddeel het; sommige voer selfs aan dat bone die eerste keer in Serwië geplant is.

Die Astal Saren Restaurant is knus binne en hier eet jy soos 'n koning

Die Astal Saren Restaurant is knus binne en hier eet jy soos ‘n koning

Ons systap egter die bone en elke maaltyd oortref die volgende een. By Café Veliki – waar ons hotel ook ‘n ontbyt met onder andere paprikaworsies, vars kersies en sponskoek bedien – eet ons vark met vinkeljogurt en knoffelroostergroente; in ‘n systraatjie by Astal Saren Restaurant eet ons bokmelkkaas, paprika-tjops en gerookte wors saam met ander tradisionele Serwiese geregte.

Vóór aandete beproef ons egter die interessante kroegies: by Berberaj kan jy absint drink terwyl jy jou hare by ‘n barbier laat skeer of knip; by Bouquet Wine House kan jy ‘n wye verskeidenheid plaaslike wyne proe of per glas bestel; en in ‘n ou treinwa wat as buitelugkroeg ingerig is, drink ons Serwiese chardonnay.

‘n Belewenis in Beograd

Die hoofstad van Serwië is Beograd. Beograd blyk voortdurend aan die verander te wees. Wat uitstaan is ‘n kultuur van sypaadjiekafees, beskaafd bier drink en in restaurante uithang.

Die Serwiërs wat in die hoofstad woon, hou daarvan om buite te wees en saam te kuier. Hulle glo hul tuisstad is uniek en aan die voorpunt van nuwe giere; dog as jy die eerste keer daar aankom, wonder jy aan die begin waarom jy jouself in ‘n ietwat chaotiese stad met baie verwaarloosde geboue begeef het.

As jy jou daarop toespits om toonaangewende of gesellige restaurante en koffiewinkels te besoek, gaan dit jou lank neem voor jy Beograd se indrukwekkende lys deurgewerk het en dan sou jy steeds nog nie naastenby by almal uitgekom het nie.

Ruim ook tyd in vir die Kalemegdan Vesting (of Sitadel) waar die kanonne en militêre tenks in die grag jou broek sal laat bewe en die Militêre Museum ‘n interessante oorsig van die geskiedenis van Joego-Slawië bied.

Groen woude en bere in die platteland

Serwië is een van die min lande waar bere nog in die woude voorkom. Die plattelandse dorpies wat ons vanuit ons treinvensters sien en uitgestrekte woude in die verte het ons sodanig betower dat ons reeds besluit het om ons volgende oorsese reis weer na Serwië en sy buurlande te beplan. As dít nie ‘n getuigskrif vir dié land is nie, weet ek nie wat anders sal wees nie.

Wat jy kan verwag om per persoon te betaal:

Ons het eers na Hongarye gevlieg en vandaar met die trein na Serwië gereis. Ons vlugkaartjies – met Turkish Airlines – was minder as R10 000 per persoon.

Treinkaartjies:

Van Boedapest, Hongarye na Novi Sad, Serwië: R196

Van Novi Sad na Beograd: R43

Van Beograd na Bar, Montenegro: R376

In Novi Sad

Ingang by die fortmuseum: R42

Glas wyn op die sypaadjie: R14 – R36

Absintdrankie: R25

Aandete by Café Veliki: ‘n voorgereg wat ons gedeel het, hoofgereg en huiswyn: R174

Verblyf by Hotel Veliki vir een nag: R375

In Beograd

Bier by ‘n nuwerwetse sypaadjiekafee: R35

Verblyf in ‘n sentraal geleë hotel: R550

Taxi vanaf ons hotel na die stasie: R38

Koue vleise, kase, vars kersies, sjokolade en wyn vir ons treinpiekniek: R60

Sou jy gaan:

www.visitnovisad.rs/petrovaradin_fortress.html en in Beograd: www.tob.rs

Werd om te weet

As jy reeds ‘n Schengen-visa het, is dit nie nodig vir ‘n Serwiese visa nie. Ons het eers na Hongarye gevlieg en vandaar per trein na Serwië gereis.

Ek sou jou aanraai om die inligting vanaf die Serwiese ambassade se webwerf uit te druk en by jou te dra, want nie al die amptenare is bewus van hierdie visa-vergunning nie. Hoewel dit ‘n tydjie geneem het om die doeane-beampte te oortuig, het ons verder geen probleem ondervind om die land binne te gaan of te verlaat nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 8, 2019 by in Europa and tagged .