ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die oudste wingerdstok in die wêreld

First published in Rapport, July 2019

Die oudste wingerdstok in die wêreld groei in Maribor, Slowenië. Dié wingerdstok is reeds in 2004 in die Guinness World Book of Records opgeneem.

Die wereld se oudste wingerd in Maribor, Slowenie

So lyk die oudste wingerstok in Maribor

Maribor is ‘n kleinerige stad in die ooste van Slowenië en is 127 km vanaf die hoofstad, Ljubljana geleë. Die stad is omring deur wingerde met verskeie wynroetes om te verken.

Die Ou Wingerdstok, soos dit algemeen bekend staan, is meer as 400 jaar oud en dra nog steeds druiwe. Sloweniese kundiges sowel as ander wingerdgenetikakundiges het deur toetse wat hulle uitgevoer het, die ouderdom van die wingerdstok bevestig. Daar is selfs ‘n vermoede dat die wingerdstok nóg ouer kan wees.

Verder bestaan daar ook skilderye, wat uit 1657 en 1681 dateer, waarop die wingerdstok duidelik gesien kan word waar dit voor ‘n huis in Vojasniskastraat 8 in die buurt genaamd Lent in die hartjie van Maribor groei.

In 1982 is dié huis gerestoureer; in 2007 is dit as die Huis van die Ou Wingerdstok ingewy. Die Huis van die Ou Wingerdstok dien sedertdien as toerismeinligtingskantoor en vinoteek en daar word ook gereeld uitstallings en funksies gehou.

Op die vloer van die Huis van die Ou Wingerdstok is ‘n mosaïekskepping wat die geskiedenis van die stad Maribor uitbeeld.

Die Huis van die Ou Wingerdstok het ‘n uitsig oor die Dravarivier wat deur die stad vloei; die Ou Wingerdstok groei aan die suidekant van die gebou.

Die kultivar van die Ou Wingerdstok staan bekend as Modra Kavcina of Zametna Crnina oftewel Zametovka. Hierdie kultivar word veral in die suidooste van Slowenië aangetref.

Die wereld se Oudste Wingerdstok is nog geilgroen en dra nog druiwe in seisoen

Oud, maar nog nie koud, geilgroen groei die wingerdstok

Dit is net genade dat die Ou Wingerdstok nie tydens die laat Middeleeue met die Ottomaanse invalle vernietig is nie.

Die wingerdstok het ook verskeie brande wat gereeld in daardie tydperk uitgebreek het, oorleef. Dis omtrent ‘n wonderwerk aangesien die omringende geboue almal houtdakke en strooisolders gehad het en nog soveel te meer aangesien die huis agter nommer 8 ‘n paar keer deels afgebrand het.

In 1870 was daar ‘n filoksera(druifluis)-epidemie in Slowenië. Baie wingerde het as gevolg van hierdie wingerdsiekte gesneuwel. Die wortelstelsel van die Ou Wingerdstok was egter so diep in die grond van die oewers van die Dravarivier dat dit die wingerdstok beskerm het.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die Huis van die Ou Wingerdstok gebombardeer en deels vernietig; weereens het die wingerdstok egter ongeskonde daarvan afgekom.

In die sestigerjare het kundiges van die Landbou-instituut van die Universiteit van Maribor opgelet dat die wingerdstok ietwat olik lyk. Op daardie stadium was daar ook planne om die huis waar die wingerdstok groei, te sloop. Gelukkig kon hul inspring en die huis sowel as die wingerd red.

Die Huis van die Ou Wingerdstok huisves 'n toerismekantoor en wynwinkel

Die Huis van die Ou Wingerdstok huisves ‘n toerismekantoor en wynwinkel

Tydens ‘n besoek aan die Huis van die Ou Wingerdstok is aan ons vertel dat die druiwe van die wingerd steeds gebruik word om wyn te maak. Die enkele bottels wat geproduseer word, is vir die eksklusiewe gebruik van die president van Slowenië om na goeddunke met belangrike besoekers van regoor die wêreld te deel.

Die Ou Wingerdstok het nie net sy eie wingerdkundige nie; daar is ook ‘n lied aan dié plant met sy eie museum, soos die Sloweniërs graag spog, opgedra.

Daar word jaarliks ‘n Fees van die Ou Wingerdstok gehou. In 2019 is dit van 13 tot 22 September.

Besoek die Huis van die Ou Wingerdstok (Stara Trta)

Adres: Vojasniskastraat 8, Maribor

Openingstye:

Oktober – April, 9h00 – 18h00

Mei – September, 9h00 – 20h00

Lees meer: www.maribor-pohorje.si/the-story-of-the-oldest-vine-.aspx

Luister na die Ou Wingerdstok se eie lied: www.maribor-pohorje.si/files/himna.mp3

Terwyl jy daar is: Drink ook ‘n glas wyn by Macka Kafeerestaurant in die geel gebou langs die Huis van die Ou Wingerdstok. Macka is ‘kat’ in Sloweens.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 21, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .