ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

STILBAAI RAAK RASERIG

First published in Die Burger, February 2012

Baie Riversdallers is ook Stilbaaiers

Stilbaai is lankal nie meer seisoentyd stil nie. Eintlik was Stilbaai nog nooit vakansietye stil nie. Selfs in die diep winter is Stilbaai deesdae nie tjoepstil nie – daar is noual te veel permanente inwoners, afgetree aldan nie.

Stilbaai is eintlik al ‘n hele tyd ‘n volwaardige dorp.Weliswaar nie ‘n erg raserige dorp nie. Wyd uitgesprei met ‘n definitiewe oos en wes, geskei deur die pragtige, kronkelende Goukou-rivier. Op die Goukou word daar visgevang (of soms net gehengel), gewaterski, geroei, geplas. Op die oewers word daar in die son getalm, gespeel, met nuus opgevang en heelwat tienerromanses het al hier begin.

Plaaslike inwoners en besoekers benut die rivier

Toe mans nog mans was

In die ou dae is vakansie-romanses in die ou Bellevue Hotel opgevat en geëindig. Deeske dae toe meisies en vrouens nog in die sitkamer moes kuier en as hul so ietwat voor-op-die-wa die mannekroeg probeer betree het, is hulle summier deur ene Piet aangepraat. En die deur gewys.

In die einste hotel is darem vir jou ‘n dekade of twee, drie terug gedáns dat die houtvloer bewe. ‘n Plattelandse bruisende naglewe, volgens dié wat daar was. Op reëndae is daar vir nimmereindigende ure aaneen in die groot, oop sitkamer kaart gespeel. Studente het mos altyd drinkgeld. Toe het ‘n bier nie veel meer as een rand gekos nie. Einste studente het laatoggend katzenjammer (soos wat die Duitsers ‘n babbelas noem) opgestaan en uit hul tente gestrompel. Nie dat dit hulle die volgende aand ingeperk het nie.

John Muir Senior (1918-1994), die ou eienaar van die Bellevue, en sy seun, Johnny Muir (1964-2007) kon elk eindelose staaltjies oor die hotel en sy gaste vertel. Jy kon jou verluister aan dit wat hulle van die skeepswrakke aan hierdie deel van die kus weet.

Op die bultjie skuins agter die ou hotel is die ou Klipkerk(ie) wat na ‘n sendingkerkie lyk. As jy voor die kerkie staan, voel jy sommer lus om daardie selfde Sondag ‘n diens by te woon.

Skuins agter die ou hotel is die mooiste kerkie

Hoewel die hawe nie veel verander het nie, is die houthuisrestaurant nie meer daar nie. Dáár is Trivial Pursuit op die houtbalkon gespeel en soms ‘n trappie oppad na onder misgetrap. Hier sien jy tog nog bestaansvissers, meestal van Melkhoutfontein,  wat donkeroggend uit see toe gaan – hul gekruide gesprekke los onwillekeurig glimlagte agter. Een van die inkommer-skippers het ‘n kenmerkende manier van praat en ‘n gepaste naam, Fish, wat dateer van lank voor hy op Stilbaai aangekom het.

Stilbaai-Wes se ou huise is destyds van hout en op stelte gebou vir wanneer die see te hoog raak. Stilbaai-Oos het eers later gewild geraak omdat die water aan die oostekant erg brak was.

Rek jou litte

Gaan stap ‘n draai by die visvywers in Stilbaai. As jy braaf genoeg is, moet jy in die aand ‘n draai daar gaan maak, want sommige glo dit spook hier. As jy die lus jou pak om laaank te gaan stap, is die ongerepte wit Preekstoel-strand die plek vir jou.

Doerie tyd is boeresport in die vakansies gespeel. Mettertyd het raakrugby gewild geraak veral onder die invloed van bekende rugbyspelers wat hier vakansiehuise besit het. Die Stilbaai Raak-Rugby Toernooi in laat Desember is nou al ‘n welbekende jaarlikse instelling. As dit Touchies-tyd is, is daar selfs spitsverkeer in Stilbaai.

Steek jou hand uit

By Palinggat kan oud en jonk (van hart) palings voer. Van Bellevue Hotel se tyd tot nou. Die palings is mak; eet uit jou hand uit; en is veral lief vir vis en vleis. Sorg dat jy om elfuur by die Palinggat-Opstal is.

Ondersteun die plaaslike ekonomie

Dalk maak die gemengde see- en rivierlug die mense kreatief, want Stilbaai het sy kwota winkeltjies wat jou beursie dunner (kan) maak. By Beleef in Stilbaai-Wes word alles wat kan – of dalk nie kan nie – herskep of met verf opgedollie, met ‘n hekelblom verfraai of sommer net vir iets ongewoons ingespan. By Werda in Stilbaai-Oos word alles handgemaak of geskilder volgens hul leuse van landelike eenvoud; as jy iets sien waarvan jy hou, moet jy dit maar dadelik aanskaf, want hier word goeters vinnig uitverkoop.

Draf sommer by die Stilbaai Slaghuis oorkant Werda in, want so ‘n slaghuis cum deli het jy nog nie beleef nie. Skaapribbetjies laat jou lippe aflek; kyk oor jou skouer wat nog alles in daardie yskaste ontdek kan word. Dis g’n wonder hulle het al verskeie toekennings gekry nie.

Net voor jy by die ou begraafplaas regs na Jongensfontein draai, kan jy regs swenk na Blue Bells kwekery cum dekorwinkel cum teetuin met allemintige, dekadente snye koek wat liefs maar gedeel moet word. Hier by Isabelina twienkel glas en spieëls sowel as staan- en hanglampe wat jou die gebod dat jy nie mag begeer nie,  laat prewel.

Net na jy oor die brug gedraai het na jy Stilbaai van Riversdal se kant binnegekom het, sien jy ‘n gebou wat na ‘n groterige huis lyk. Dis Matchbox, wat binne so propvol soos ‘n ou vuurhoutjieboksie is, en juis daarom wil mans soms nie hê hul vroue moet daar inbeur nie; al is daar ‘n koffiewinkel en ‘n houtdek waar die wederhelftes kan sit en wag.

As jy rivierlangs ry, het die tyd plek-plek stilgestaan.

Selfs vervalle plaasgeboutjies bly mooi

Verbeel jou jy’s in Frankryk

‘n Handvol kilometer buite Stilbaai is ‘n olyfplaas, Olyven Houdt, wat lyk of dit diep in die Franse platteland sy inspirasie gekry het. ‘n Lang olyfwandelgang lei na die restaurant, The Press Room, wat deesdae so gewild is dat jy nie meer sommer net kan opdaag nie. Binne sit jy by lang tafels wat vra vir lang middagetes; buite sit jy onder ‘n ouma-melkhoutboom of op die terras voor die restaurant.

Vóór Olyven Houdt ontwikkel is, was daar langs die pad ‘n plaaswerkershuisie genaamd Die Wit Huis met blou en pienk balke en vensterrame. Deesdae lyk dieselfde geboutjie asof dit uit soliede klip gebou is en binne-in is ‘n aromatiese winkeltjie wat na wildevy, heuning en laventel ruik. Die verkoopsdame dra ‘n dik string geknoopte pêrels of ‘n ietwat lawwe hoed –  pure laventelhaan met ‘n ietwat dieper stem.

Die Withuis is nou 'n kliphuis

‘N NAWEEK IN STILBAAI
·       Daar’s seker nie ‘n Stilbaaier wat nie Helene Steyn se boekie Stilbaai op die rak het nie. Dit maak ook lekker leesstof uit vir enigiemand wat sommer vir ‘n naweek in Stilbaai kom uitspan.
·       Kontak Werda – Crafts and Décor by 082 360 4649
·       Loer watter leefstyl-idees by be.leef is: www.beleef.co.za
·       Stilbaai Pampoenfees word hierdie jaar op 24 Maart gehou

·       Huur ‘n kotstylhuisie, Harbour Cottage, oorkant die hawe: kontak Tine-Mari Muir 082 376 7741 of e-pos: harbourcottage@webmakers.co.za

Dis nie die laaste sien van die blikkantien

2 comments on “STILBAAI RAAK RASERIG

  1. Thea Scheepers
    February 12, 2024

    Hallo Ilze. Watter diamant het hier op die rekenaar op jou ‘blog’ verskyn! Dankie daarvoor.
    Jy raak raak so aan die Bellevue hotel en beskryf met kleur en geur presies wat destyds in die hotel gebied is vir een en almal. Dit is kosbaar.
    Jy noem ook van die skeepswrakke of ysterstukke wat voor die hotel ingemessel is. Stefanus Nel heg groot sentiment aan die eertydse hotel en het vir hom twee eenhede hier gekoop.
    Ek het aangebied om die oorsprong van die soliede stukke ysters na te gaan sodat daar meer inligting vir inwoners beskikbaar is oor hierdie historiese en besonderse uitstalling voor die hotel.
    Dit klink volgens jou blog of jy weet van navorsing.
    Kan jy my riglyne gee om waar te soek vir die inligting oor hierdie swaar ystergoed. om die verskillende items te identifiseer, hoe en wie dit uit die baai of uit die rivier vervoer het en van watter skip en wanneer die skip hier gestrand het. Dit behoort tussen 1900 en 1955 te gebeur het.
    Baie dankie en sien uit na jou terugvoer.
    groete Thea Scheepers Bellevue 12 Stilbaai Oos.

    • ilsez
      February 12, 2024

      Dankie vir jou mooi woorde oor ‘Stilbaai raak raserig’! Ek weet ongelukkig nie meer as wat in die artikel verskyn het nie. Ek werk oorwegend as reisjoernalis so diep navorsing maak nie deel daarvan uit nie. Wens ek kon jou meer help. Dankie weereens.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 29, 2017 by in Die res van Suid-Afrika.