First published in Die Burger, February 2014
‘n Outydse voëlverskrikker is iets waaraan ‘n mens jou kan verkneukel van lekkerkry. Dit laat jou jou kleintyd herleef; al is dit eintlik maar net ‘n opgestopte pop wat in ‘n aarbeiland staan.
Ai, ‘n mens sien dit so min; die gebruik om voëlverskrikkers voëls op ‘n skadelose manier te laat verjaag, is al lankal aan die uitsterf. Tog is daar nog ‘n paar plekke waar die poppe dans; altans die fraiings van vrolike voëlverskrikkers in die wind wapper.
Die grootste familie voëlverskrikkers in een aarbeiland
Mooiberge Plaasstal kan sekerlik die prys vir die meeste voëlverskrikkers op een werf inpalm. Mense ry van heinde en verre hierheen, moontlik meer vir die voëlverskrikkers as vir die aarbeie of die allemintige plaasstal.
Sommer met die naderry, sien jy ‘n ry wilde diere in psigedeliese kleure; teen ‘n kleurvolle windpomp klouter avontuurlustige voëlverskrikkers sonder hoogtevrees en trekkers wat in onbruik verval het, staan hier en daar.
By Mooiberge is alles (en nog meer) – in deurmekaar rye en rakke – wat jy by ‘n plaasstal kan verwag sowel as ‘n reuse wyn-afdeling.
Kyk uit vir die sprinkaan met sigsag-voelers, ‘n reuse mielie, voëlverskrikkers wat verskillende rugbyspanne ondersteun en ‘n kameelperd met polka-kolle.
Klaasvoogds, wat ‘n soetklinkende naam
Tussen Robertson en Ashton is ‘n afdraaipaadjie wat smeek om verken te word. Amper net mooi in die middel hurk die ou Klaasvoogds-stasie waar die Klaasvoogds Winkel en Slaghuis (met ‘n posagentskap) bedryf word.
Op die dak sit ‘n ry voëlverskrikkers tussen stekelrige kaktusse; op die stoep rus ‘n winkelpop om die voëlverskrikkers geselskap te hou. By die spoorlyn het twee voëlverskrikker-tannies met blommetjiekopdoeke naambordjies: Betsie en Nanie.
Binne-in die winkeltjie hang ‘n vergeelde foto van ‘n ou lokomotief wat tjoekkepakke hier verbystoom. Hier koop jy skaapafval, beeskop, polonie en skaappote by die slaghuis. Of plastiekhaarkamme, los sigarette, skoolsokkies en waslappe saam met vinnige broodnodige inkopies oor die toonbank.
‘n Oranje bord kondig aan dat daar in die Klaasvoogds-distrik gekuier word dat die biesies bewe, tot drolpere vye word, tot die hare waai… en die hane kraai.
Olke bolke riebiekie stolke olke bolke polka(draai)
Die naam Polkadraai roep uittelrympies uit my ouma se tyd by my op; en die liedjie van Kittie wat haar laat “draai en swaai”. Eintlik was die naam van die pad Ou Polkadraai. ‘n Aarbei so groot soos ‘n klein lorrietjie is wat jy eerste raaksien.
Voor Polkadraai Plaasstal is ‘n lowergroen grasperk; teen die wit paaltjieheining hou voëlverskrikkers met lapbaarde in toiingrige broeke wag. Een knaap is selfs in oranje-blanje-blou geklee. Blouhaarvoëlverskrikkers en eienaardige maskergesigte kyk oor die gras uit.
Op ‘n stoel sit die grootste voëlverskrikker van almal asof hy die indoena is wat alles hier beheer en reguleer. Selfs binne-in die plaasstal is een voëlverskrikker wat hom aspirant-musikant hou en ‘n ander wat in ‘n Kaapse Klopse-baadjie getooi is.
Koop iets om aan te peusel of pluk jou eie aarbeie in seisoentyd.
My pa is ‘n lummel, ek is ‘n buksie
By Affie Plaas net voor Robertson lyk die strooibaal-voëlverskrikkers al jare lank dieselfde. Dis lummels en buksies hierdie, met motorbande vir hoede. Die ma- en pa-voëlverskrikker heet blykbaar Johannes en Magrieta en loer guitig vir mekaar daar onder by die hek. Die hooikinders hoesproes langsaan.
Johannes spog ewe met ‘n tropies-geïnspireerde hemp en omgeslaande kraag terwyl Margrieta lyk of sy oppad na ‘n lentedans is. Dalk het die pantoffelregering vir Johannes opgedres. Kleinboet dra ‘n oorpak en ‘n propêller in sy hoed.
In die plaasstal speel boeremusiek en daar is eg Afrikaanse lekkernye, dikdeegpasteie, beskuitpanne en verskillende soorte tee, maar ook sjoksalami’s en kwarteleiers, te koop. ‘n Swartbord buite adverteer boeremeisies (die eetbares), bokmelkfudge, boegoetee, plaasbotter en rooinekke. Met al die rondkyk vergeet ek toe heeltemal om uit te vind wat rooinekke nou eintlik is.
‘n Patatfees met sy eie voëlverskrikkers
Napier in die Overberg het al bekend geraak daarvoor dat die hele dorp gedurende die Patatfees met voëlverskrikkers versier is. Die een is koddiger as die ander, want daar is boonop pryse te wen.
By die eerste stopstraat van die dorp kniel gewoonlik voëlverskrikkers wat onkruid uittrek; oor stoeprelings hang boepensomies; party balanseer op die nok van ‘n dak; aan die ander punt van die dorp stel ‘n boetebessie kamtig ‘n snelstrik.
Brilletjies, waterstewels, pantoffels en kledingstukke met klossies word deur die dorpenaars opgediep om mekaar die stryd aan te sê.
Die volgende Patatfees is in Junie 2014.
www. napierpatatfees.wordpress.com/about-festival
Recent Comments