ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die ritme van Jantar Mantar

First published in Die Burger, October 2019

Die uitsig oor Jantar Mantar in Jaipoer

Die uitsig oor Jantar Mantar in Jaipoer

‘n Mens sou nooit kon raai dat ‘n woord of naam soos Jantar Mantar – met sy speelse rymelary-klanke – na ‘n sterrewag verwys nie.

Die woord Jantar kom van die Sanskrit-woord Yantra wat ‘instrument’ beteken.

Sanskrit is ‘n klassieke Indo-Europese taal en dis een van die amptelike tale van Indië, maar dis sedert 500 v.C. nie meer die gesproke taal van die mense nie.

Mantar kom van die woord ‘mantra’ wat ‘formule’ beteken. Juis oor die rymelary-effek is ‘mantra’ omvorm na ‘mantar’ om meer klem op die naam van dié sterrewag sónder ‘n teleskoop te plaas.

Jantar Mantar is die algemene naam vir die sterrewagte – daar is vyf in totaal – wat deur Maharadja Sawai Jai Sing II gebou is. Die sterrewagte is in die vroeë 1700’s gebou; bronne verskil oor of dit in 1710, 1724 of 1728 was.

Jai Sing is in 1688 in Rajastan in Indië gebore. Sy pa was ‘n maharadja (die titel van ‘n Indiese vors) in Rajastan.  As jong seun het Jai Sing onderrig ontvang in Hindi, Sanskrit, Persies, Arabies, Wiskunde en Sterrekunde. Sterrekunde oftewel Wiskundige Aardrykskunde was sy gunsteling vak.

Op elfjarige ouderdom is Jai Sing se vader oorlede. Jai Sing het die nuwe heerser by Amber in Rajastan geword en het mettertyd ‘n reputasie as baie goeie kryger verwerf.

Tydens vader en seun se heerskappy het Rajastan onder Mongolië geval. Skaars het die jong man die troon bestyg of hy is deur die Mongoolse keiser uitgenooi om hom te besoek. Tydens hierdie ekspedisie het Jai Sing ene Jagannatha ontmoet. Jagannatha het baie van sterrekunde geweet en later het hulle saam aan die oprigting van die Jantar Mantars gewerk.

Voor die klipinstrumente van elke Jantar Mantar opgerig is, het Jai Sing boeke uit Europa (Frankryk, Duitsland, Engeland en Portugal) laat kom. Hy het ook geleerdes van verskillende sterrekundige skole laat kom om soveel as moontlik te leer voor hy met sy projek begin het.

Van die vyf Jantar Mantar-sterrewagte is die een in Jaipoer die grootste (dit is die een wat ek besoek het).

'n Muur van die sonwyser vanaf die kant gesien

‘n Muur van die sonwyser vanaf die kant gesien

Daar is altesaam negentien groot klipinstrumente, elk met sy eie spesifieke doel, by Jaipoer. Om akkuraatheid te verseker, is die instrumente eers uit hout gemaak en daarna uit klip.

Die belangrikste klipinstrument is die Samrat Yantra, die grootste sonwyser in Indië. Die Samrat Yantra is ‘n groot driehoekige klipstruktuur wat beskryf kan word as ‘n sonwyser wat tyd in gelyke ure verdeel. Teen die tyd wat Jai Sing sy sonwyser gebou het, het sonwysers al eeue lank bestaan, maar Jai Sing s’n was tot baie meer presiese meting in staat.

Die Ram Yantra stel jou in staat om die posisie van ‘n ster of ander hemelliggaam vas te stel. Die Ram Yantra kan net in Jaipoer en Nieu-Delhi se Jantar Mantars gesien word.

Die Jai Prakasj lyk soos twee poedingbakke wat in die grond laat sak is. Die binnekant van die poedingbakke is in spesifieke segmente verdeel. Weerskante is trappies sodat jy onder die ‘poedingbakke’ kan instap.

Soos die Samrat Yantra en die Ram Yantra stel die Jai Prakasj jou in staat – dis nou as jy verstaan hoe dit werk – om die deklinasie (afstand tot die ewenaar), hoogte en asimut (toppuntshoek) van die son en sterre te bepaal.

Die Samrat Yantra, Ram Yantra en Jai Prakasj is deur Jai Sing uitgevind. Hierdie instrumente was baie meer gevorderd as ander instrumente wat op daardie stadium in gebruik in Indië was. Met behulp van hierdie instrumente kon meer akkurate kalenders en astronomiese tabelle ontwikkel word. Die instrumente is ook deur jong paartjies – of hul ouers – in Rajastan gebruik om troudatums vas te stel!

Met die uitvinding van die teleskoop – of altans toe dié uitvinding Indië bereik het – het hierdie instrumente natuurlik in onbruik verval.

‘n Interessante instrument – wat net by die Jantar Mantar in Delhi voorkom — is die Misjra Yantra wat gebruik is om die kortste en die langste dag van die jaar te bepaal. Dié instrument kon ook aandui wanneer dit twaalfuur in die middag in ‘n paar stede in die wêreld is. Daar word geglo dat die Misjra Yantra eerder deur Jai Sing se seun, Madho Sing, gebou is.

Met of sonder kennis van sterrewagte kan ‘n mens kwalik glo dat Jantar Mantar werklik ‘n sterrewag is as jy dit die eerste keer aanskou.

Dis egter die moeite werd om die Jantar Mantar te besoek; al weet jy minder as ‘n kat van saffraan van sterrekunde af. Die elegante lyne van die klipstrukture, stele trappe wat lyk of dit lukraak rondstaan, klipboë, skewe mure, reusagtige ysterballe en holtes in die grond lyk na abstrakte beeldhouwerk. Dis pragtig opsigself en jy kan die mooiste argitektoniese foto’s daarvan neem. Daar’s ook ‘n uitkykpunt vanwaar jy oor die hele Jantar Mantar kan uitkyk.

Waar is Jantar Mantar in Indië?

Die grootste Jantar Mantar: Gangori Bazaar, J.D.A. Mark, Kanwar Nagar, Jaipoer, Rajastan

Die ander is in:

  • Nieu-Delhi
  • Varanasi
  • Ujjain

Besoekure: Daagliks van 9h00-16h30

Dit is aanbevole om die Jantar Mantars in die middel van die dag wanneer die son skyn, te besoek. Dan is die son reg bokant jou kop en is dit makliker om te verstaan hoe die lesings van die instrumente geneem is.

Daar was ook ‘n vyfde Jantar Mantar in Mathura, maar hierdie een het nie behoue gebly nie.

Lees meer by: www.jantarmantar.org

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 6, 2020 by in Asië and tagged .