First published in Rapport, June 2016
In die land van Genghis Khan
‘n Eienaardige plek díé. Nie sommer ‘n stad wat jy opsigself as bestemming sal kies nie.
In Vredelaan (Enkh Taivny Őrgőn Chőlőő in Mongolies – om Mongoliese woorde korrek uit te spreek, word mildelik van deeltekens gebruik gemaak,) die ‘Adderleystraat’ van Oelan Bator,die hoofstad van Mongolië, is die meeste mangatdeksels gesteel en as jy nie mooi kyk waar jy loop nie, is dit ‘n paar meter se val voor jy hard met die grond gaan kennismaak. Tog het die kleinste koffiewinkeltjies ieder en elk gratis WiFi.
Sou jy met die Trans-Mongolië (van Oelan Bator na Beijing) of Trans-Siberië Trein (van Moskou na Beijing) reis, sou dit kortsigtig wees om nie die kans aan te gryp om ‘n paar dae in Oelan Bator deur te bring nie.
So ook as jy oppad is na die steppe om perd te ry of rendiere te observeer.
Oelan Bator is die éérste stad wat ek teëkom waar elke Jan Rap (of Otgonbayar, ‘n algemene Mongoliese naam wat ‘vreugde oor die jongste seun’ beteken) en sy maat – dis nou as hulle wel Engels kan praat – jou ernstig maan teen gedugte sakkerollers en blatante boewe wat summier jou sak van jou skouer afsny.
Voor toeristewinkels is duidelike waarskuwingsborde opgerig; aanvanklik laat dit ons – gepaard met al die ander reisigers in ons gastehuis – broekspype bewe.
Laterhand besef ons dat ons as straatwyse Suid-Afrikaners net uiters bedag moet wees, en soos in enige ander plek ter wêreld, versigtig moet wees waarheen ons kies om te gaan.
Oelan Bator is nie ‘n plek wat sommer in jou hart kruip nie. Jy’t nogal hare op jou tande nodig om op jou eie in die hoofstad van Mongolië rond te beweeg en die stad te verken.
Die drie dinge wat Oelan Bator by uitstek bied, is ongewone kos, kerk- oftewel tempelkultuur en ‘n tradisionele teatervertoning.
‘n Hoogtepunt was ongetwyfeld die Tumen Ekh-vertoning by die Staatsteater vir die Jeug wat al verskeie internasionale pryse gewen het. Ons is ook oorrompel deur hul entoesiasme, energie en professionaliteit. Om nie te praat van die ongelooflike kostuums nie.
Daar word baldadig gedans; dis seker die eerste keer wat ek tradisionele danse sien waaraan ek myself rêrig verkyk. Ook die eerste keer wat ek keelsing (khőőmii in Mongolies) beleef.
Ons vergaap ons aan die kontorsionis, ‘n jong meisie met ontblote arms en donker vleeskleur sykouse aan haar bene wat haar liggaamsposisies aksentueer.
Alles in ag genome is dit geen wonder dat heelwat webtuistes dit as die nommer een-besienswaardigheid in Oelan Bator beskou nie. Dis nog meer indrukwekkend as ‘n mens daaraan dink dat dié teater in ‘n obskure deel van die stad is, en nie so maklik is om te vind nie.
Oppad na die Gandan Khiid Klooster stap monnikseuntjies geklee in boergonje jurke met saffraankleur serpe verby ons. Party groet, ander praat nie met vrouens nie, soos die gebruik onder sommige is. Vir baie families is dit die enigste manier waarop hul seuntjies ‘n geleentheid tot opvoeding kan kry. Party van die mini-monnike lyk maar bra ondeund.
By Gandan Khiid is vyf tempels – nie almal kan besoek word nie – en groot brons bidwiele wat Mongoliërs, oppad werk toe, eers prewelend in die rondte kom tol. Net oorkant die bidwiele is ‘n kamertjie met ‘n kitsbank! Selfs monnike het soms kontant – in hierdie geval Mongoliese tőgrőg – nodig.
Op die plein tussen die tempels by Gandan Khiid sit ‘n swartraambril-omie wat amper onder my oksel kan inpas. Hy verkoop pakkies saad om duisende duiwe mee te voer. Dit gee ‘n gegiggel af as die duiwe – uitbundig bly oor die saad – op jou kop kom sit, stoei oor ‘n sitplek op jou pols of orals rondfladder.
Ons vergeet van tyd toe ons oor die drumpel van die grootste tempel tree. Ons bevind onsself midde-in ‘n dreunsangdiens. Ons is omgewe deur ritmiese, melodieuse stemme. Almal sit plat – of gehurk op hul voete – op verweerde matte. Uit die dak hang bont materiaalsuile met garingtossels. Dit lyk asof kleurvolle sydasse aan mekaar vasgenaai is.
Oplaas skeur ons onsself weg van die ontroerende diens. Daar’s kasjmier wat wag om hul plek na ons tasse te vind.
Kasjmier is baie meer bekostigbaar – en van beter kwaliteit – in Mongolië as in enige ander plek. Omtrent elke straatblok het ‘n kasjmierwinkel. By die staatsafdelingswinkel (State Department Store) – soos Garlicks in die vroeë sewentigerjare – is die style meer geneig om ouderwets te wees, maar hul boekwinkel op die boonste verdieping het interessante skryfbehoeftes, plakkate en landkaarte. Draai maar jou kop weg as jy verby die vospelse op die soeweniersrakke stap.
In plaas van kasjmier verlei ‘n snoesige sjokoladebruin jakwoltrui my. Ook geëmbosseerde mansleerstewels wat my ‘n leeftyd gaan hou.
Maak ook ‘n draai by Tsagaan Alt Wolwinkel wat in vilt – van stewels tot borsspelde – spesialiseer.
Tussen die inkopies deur loop ons oor die uitgestrekte Soekbator-plein. Bronsbeelde van Djengis Kahn, die grondlegger van die Mongoolse Ryk – en weerskante van hom Kublai Kahn, sy kleinseun en Őgedei Khan, die derde seun van Djengis – is so breed soos viertrekvoertuie.
By die Choijin Lama Tempelmuseum grynslag dosyne skrikwekkende tsam-dansmaskers. Hoe aanbid jy sulke gedrogte, wonder ons.
By die voete van sommige tempelbeelde is offerandes van winkelkoekies en toegedraaide suig- en koulekkers.
Die daaglikse Naran Tuul-mark – slegs toe op Dinsdae – is ‘n senutergende busrit ver. Ons is banggepraat en vermy die vroegoggendbusse. Daar aangekom, is weliswaar nie almal vriendelik nie, maar ons het verniet vooraf in ons broeke gebewe.
Saans eet ons vleissoppe, skaapkop en kluitjies by Modern Nomads, ook bekend as Nomad Legends Mongols Club. Bedags loer ons in by Millie’s Cafe vir toebroodjies of sjokoladekoek en by Veranda geniet ons uitstekende Italiaanse geregte en –wyne.
Net mooi toe ek huis toe en na my (man en) saffraangemmerkat verlang, kom ek agter Saffron Restaurant wat die reisgids aanbeveel het, het reeds sy deure toegemaak. Niks wat ‘n paar sopies Black Chinggis-wodka nie kan regstel nie.
Wat jy nog wil weet:
* Lees meer oor die hoofstad van Mongolië:
www.wikitravel.org/en/Ulaanbaatar
* Bespreek vir ‘n moetsien-vertoning:
https://tumenekh.wordpress.com/
* Luister na Mongoliese keelsing (dreunsang of throat singing):
www.youtube.com/watch?v=gQUgtEBbPi4
* Vind meer uit oor die Gandan Khiid Klooster:
www.mongoluls.net/khiid/gandan.shtml
* Kyk wat by die viltwinkel te koop is: www.mongolianwoolcraft.com
* Leer meer van die tempelmuseum:
https://en.wikipedia.org/wiki/Choijin_Lama_Temple
* Wat om by die mark te verwag: www.lonelyplanet.com/mongolia/ulaanbaatar/shopping/markets-streets-arcades/naran-tuul-market
Recent Comments