ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Ewige liefde vir kuns in die kleine

First published in Weekliks, Rapport, November 2022

Alle foto’s verskaf

Seëls is (steeds) miniatuur kunswerke

‘n Posseël dien as bewys van vooruitbetaling van ‘n bepaalde posgeld, lui Wikipedia se (ietwat uitgediende) definisie. Ter verduideliking staan daar ook: Meesal is dit ‘n klein reghoekige gegomde stukkie papier met een of meer afbeeldings, wat op ‘n koevert of poskaart geheg word om aan te toon dat die afsender reeds vooraf vir aflewering betaal het.

Met dié dat slakkepos grotendeels in onbruik verval het, kom ‘n mens deesdae min van seëls te hore. Sommige sal dalk verbaas wees om te hoor dat Royal Mail, die amptelike posonderneming in die Verenigde Koninkryk, tans vier herdenkingseëls van Koningin Elizabeth II uitreik. As jy in besit van skaars seëls van die koningin is, kan jy maar weet dat die waarde oor die volgende paar jaar gaan toeneem.

Druk die seël daarop

Filatelie (die gebruik om posseëls te versamel) is byna net so oud as seëls self.

Die term filatelie is die eerste keer in November 1864 in Le Collectionneur de timbres-postes, ‘n Paryse tydskrif vir seëlversamelaars, gebruik. Ene Georges Herpin, ‘n Fransman, het dié term uitgedink. Filatelie is afgelei van die Griekse philos wat liefde en ateleia wat ‘dit wat belastingvry is’ beteken.

Versamel mense nog seëls? Is dit nie maar ‘n seunskind-stokperdjie – soos ‘n medejoernalis daarna verwys – wat al uitgesterf het nie?

Gegewe dat daar vanaf 8–12 November 2022 ‘n internasionale seëluitstalling in Kaapstad plaasvind, het dié belangstellingsveld nog glad nie heeltemal getaan nie.

Tradisionele seëls is per slot van sake miniatuur kunswerke wat kulturele, historiese, politiese onderwerpe sowel as die natuur uitbeeld en belangrike nasionale en internasionale gebeurtenisse word hiermee herdenk.

Lig die seël

Verskeie seëlversamelaars op die Facebook-blad Philatelic Federation of South Africa/Filateliese Federasie van Suid-Afrika (die blad is trots Engels én Afrikaans) het van opinie verskil toe gevra is: Dink jy om seëls te versamel is ‘n stokperdjie – soos trainspotting, kwiltwerk en astrologie, soos onlangs deur ‘n studie bevind – wat aan die uitsterf is?

Johan George Bezuidenhout het geantwoord dat hy in sy laerskooljare seëls versamel het, toe vir verskeie redes opgehou, maar weer in sy veertigerjare daarmee begin. Baie van sy medeversamelaars is 40 jaar en ouer, hoewel hy ook van jonger versamelaars weet. Johan reken gesinsverpligtinge, werks- en finansiële druk is van die redes waarom baie versamelaars ophou en dan (weer) later aandag aan hierdie stokperdjie gee.

Clinton Hale van Somerset-Wes is van die opinie dat seëlversameling nie meer iets is wat kinders interesseer nie, want “hulle het soveel ander opwindende dinge om te doen”. Met die koop en verkoop van seëls het Clinton agtergekom dat ‘n belangstelling in seëls meer byval vind by mense van 40 en ouer omdat die kulturele of geskiedkundige aspekte hulle aanstaan.

Johannes Wollbrandt se opmerking op die Facebook-blad is dat die belangstelling in klassieke seëlversamelings in die 1980’s ‘n stille dood gesterf het, máár dat dit sedertdien ontwikkel het tot waar spesifieke positems van veral geskiedkundige belang gesoek word. Dis amper soos om antieke te versamel, reken hy.

Kom tot verhaal

Die opkomende Internasionale Seëluitstalling in Kaapstad beoog om Erfenis-stories te vertel.

Van die hoogtepunte sluit in: The Road to Democracy-uitstalling deur Dr. Gerhard Kamffer, A chronology of events relating to the Cape of Good Hope deur Dr. Mervyn Rosenberg, A tale of South Africa deur Danie Scheepers en ‘n uitstalling van die SA Poskantoormuseum.

Dr. Kamffer het op 10-jarige ouderdom begin seëls versamel. Hy reken jy word ‘n versamelaar gebore, of dit nou seëls of poskaarte is. Volgens hom lê die uniekheid van sy Road to Democracy-uitstalling (wat ‘n brief geskryf deur Nelson Mandela insluit) daarin dat dit “‘n visuele blik op Suid-Afrika se pynvolle verlede gee”.

Danie Scheepers maan dat “om te praat van ‘n seëlversameling, reeds ‘n verkeerde prentjie skep; dit is nie net ‘n versameling soos van plakkertjies nie, maar ‘n intensiewe studie van boeiende genot”.

Sy uitstalling handel oor SA se ontwikkeling insluitende die eerste gedokumenteerde seevaart deur Bartolomeus Dias om die Kaap, slawerny aan die Kaap en die Anglo-Boere-oorloë; dit sluit ook ‘n brief van die VOC aan Jan van Riebeeck in, wat hom loof vir die goeie bier wat hy aan die suidpunt brou.

Danie vertel dat die Covid-19-epidemie vir versamelaars “ekstra tyd gegee het om aan hul versamelings te wy”. Dit is juis toe dat hy met sy Tale of South Africa begin het. Om sy versameling uit te brei, “delwe (hy) maar rond, by handelaars, veilings en winkels wat oudhede aanhou”.

Nog ‘n interessante seëlversameling met gepaardgaande historiese koerantuitknipsels, goudaandeelsertifikate en oorspronklike staatskoerante te siene is dié van André du Plessis, die uitvoerende hoof van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika. Dit dek die ontdekking van goud in die ZAR (Transvaal) vanaf 1870 tot die groot mynstaking van 1922. Hy bêre sy kosbare versameling in sy kluis, maar hanteer dit amper op ‘n daaglikse basis.

Die laaste woord behoort aan André: “Solank daar seëls uitgereik word, sal daar versamelaars wees.”

Leer meer:

stampssa.africa

https://capetown2022.org/Facebook: Philatelic Federation of South Africa / Filateliese Federasie van Suid-Afrika

Facebook: Philatelic Federation of South Africa / Filateliese Federasie van Suid-Afrika

Seëlveilings:  auction.philatelicfriends.com/public/home

Soorte seëls

  • Vastereeksseëls is die oudste soort seëls en is vir ‘n langer tyd in omloop. Gewoonlik is daar een soort seël vir elke prystarief. 
  • Spesiale seëls word elke jaar in ‘n beperkte aantal uitgereik. Dit herdenk historiese gebeurtenisse of spesiale geleenthede; soms is dit ‘n eerbetoon aan ‘n spesifieke persoon.
  • Lugposseëls
  • Seëls word na gelang van die land van herkoms of die tema (motiewe) versamel. Soms word seëls wat per ongeluk misgedruk of om een of ander rede gekanselleer is, ook versamel.

Interessante feite

  • Vóór die gebruik van posseëls moes die ontvanger van ‘n brief die posgeld betaal. As dit vir die ontvanger te duur was, kon hul weier om die brief te ontvang.
  • Die gom wat aanvanklik vir die seëls gebruik is, het maar bra sleg gesmaak. Gom van tropiese akasiabome is toe ingespan om die smaak te verdoesel, maar hoe suksesvol dit was, is ‘n kwessie van … smaak.

Wat? Internasionale Seëluitstalling in Kaapstad

Wanneer? 8 tot 12 November 2022

Waar? Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum 2

Toegang: Gratis vir die publiek; bring jou eie seëlversameling wat kundiges vir jou sal evalueer

Sien uit na: Die Suid-Afrikaanse Poskantoor reik ‘n seël ter herdenking van die geleentheid uit wat te koop sal wees. Daar is ook unieke datumstempels ontwerp wat op verskillende uitstallingsdae gebruik sal word om vyf SA Nobel-pryswenners (Albert Luthuli, Desmond Tutu, Nadine Gordimer, Nelson Mandela en FW de Klerk) te gedenk. In totaal word daar 1600 rame seëls van SA en die res van die wêreld, oftewel 25 600 bladsye met seëls, uitgestal.

Alle foto’s verskaf

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 8, 2024 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.