ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Barrydale – Poort na die hemel

First published in Rapport, August 2019

Bly oor in Barrydale

Barrydale is 'n tipiese Klein Karoo-dorpie wat bykans niemand onaangeraak laat nie

Barrydale is ‘n tipiese Klein Karoo-dorpie wat bykans niemand onaangeraak laat nie

Wys my iemand wat nie ‘n oorbly in ‘n plattelandse hotel wat met flair bestuur word, geniet nie en ek wys jou iemand wat moeg vir die lewe is. Of sommer net moeg gebore.

As ‘n Karoo-dorpie wat op ‘n Saterdagmôre ontwaak jou nie bekoor nie, is jy suf gewerk of geleef en het jy júís die wegbreek nodig.

Die storie van Joseph Barry

Die dorp Barrydale – asook ‘n vlytbrandewyndistilleerdery – is na ene Joseph Barry vernoem.

Barry was ‘n Brit wat in die vroeë 1800’s in die Kaapkolonie aangekom het. Hy was ‘n ware entrepreneur wat in die Klein Karoo begin handeldryf het. Kort voor lank het hy die Breederivier ingespan om goedere te vervoer.

Skepe het die voorraad vanaf Kaapstad na die Breederiviermond vervoer vanwaar ‘n stoomskip genaamd Kadie, wat aan Barry behoort het, die goedere met die rivier op geneem het.

Om in Barrydale uit te kom, ry jy met Roete 62 langs. In 2017 is dié einste roete as een van die tien beste padreise (road trips) ter wêreld aangewys.

Boonop kom drie verskillende paaie by Barrydale bymekaar: benader die dorp vanaf Montagu, die Tuinroete of Oudtshoorn. Dit voel amper asof alle paaie in hierdie kontrei na Barrydale lei.

Dít ontlok net één vraag: waarvoor wag jy nog?!

Als-in-een hotel met plesierige styl

Lees op Tripadvisor meer oor die Karoo Art Hotel

Lees op Tripadvisor meer oor die Karoo Art Hotel

Die vierster-Karoo Art Hotel in Barrydale se leuse is ‘Keeping it country, keeping it funky’. Of soos die eienaar, Theo Nel, dit in Afrikaans stel: “Lekker plattelands, lekker koel.” Om plattelandse gasvryheid met ‘n goeie skeut speelsheid te vermeng, kry hulle uitmuntend reg.

Agter die Monroe-paneel skuil 'n outydse bad in een van die Karoo Art Hotel se unieke kamers

Agter die Monroe-paneel skuil ‘n outydse bad in een van die Karoo Art Hotel se unieke kamers

Die speelse dekor in die ontvangsportaal van die Karoo Art Hotel is alreeds 'n aanduiding van wat om in die res van die hotel te verwag

Die speelse dekor in die ontvangsportaal van die Karoo Art Hotel is alreeds ‘n aanduiding van wat om in die res van die hotel te verwag

Loer by elke kamer met 'n oop deur in die Karoo Art Hotel in; jy weet nooit wat jy gaan raaksien nie

Loer by elke kamer met ‘n oop deur in die Karoo Art Hotel in; jy weet nooit wat jy gaan raaksien nie

'n Spatsel kleur en interessante kuns in een van Karoo Art Hotel se kamers

‘n Spatsel kleur en interessante kuns in een van Karoo Art Hotel se kamers

Elke kamer insluitende die ontvangsportaal en eetkamer is volgens verskillende temas of ‘n vermenging van style – heelwat daarvan guitig – ingerig; niemand op hierdie werf steur hulle aan konvensionaliteit nie. ‘n Goue spieëlkas, rooilipkussings, ‘n boomtak-feetjielig, ‘n Marilyn Monroe-paneel, Indiese marionette, ‘n kanariegeel kunsleersofa, ‘n peutergrootte keramiekvark en ‘n gemakstoel met boomstompdik vingers ontlok telkens ‘n glimlag gevolg deur ‘n – stuitige aldan nie – opmerking.

'n Lees- (of vry-) hoekie in die tuin van die Karoo Art Hotel

‘n Lees- (of vry-) hoekie in die tuin van die Karoo Art Hotel

By die bekroonde The Gallery Restaurant – met sy diamant-eerbewys van Diners Club vir sy uitstekende wynlys, een van net 42 restaurante in die land wat die toekenning ontvang het – kan jy gerus jou jaspante laat loswapper. Die restaurant spesialiseer in tradisionele Suid-Afrikaanse kos soos lamtjops en –bredie en volstruisgeregte, vanaf die Karoo natuurlik.

Bistro Blues is in die systraatjie langs die Karoo Art Hotel gelee

Bistro Blues is in die systraatjie langs die Karoo Art Hotel

Alternatiewelik is Bistro Blues skuins oorkant die hotel in ‘n systraatjie ‘n goeie opsie.

Op die oomblik is daar nóg meer rede om by The Gallery te gaan aansit aangesien ‘n rits feesetes (sien kassie vir meer inligting) as aanloop tot die Muskadelfees aangebied word. Binnekort word ‘n nuwe muskadelmuseum by die Karoo Art Hotel ingewy.

By ‘n onlangse feesete saam met “Twee Karoo-susters in een kombuis sonder om stry te kry” het sus Marietjie Koekemoer Swanepoel en sus Annatjie Reynolds onder andere Karoo-biltongkrokette geïnspireer deur ‘n Viëtnam-besoek, wildsvleissaaltjie van ‘n Richmond-plaas, gebraaide aartappels met kaiings en ‘n murgbeen in die lengte deurgesny, voorgesit.

Peter Veldsman vertel 'n staaltjie terwyl die twee Karoo-kokke, Marietjie Koekemoer en Annatjie Reynolds, saamluister

Peter Veldsman vertel ‘n staaltjie terwyl die twee Karoo-kokke, Marietjie Koekemoer en Annatjie Reynolds, saamluister

Peter Veldsman klink 'n glasie met een van die gaste by die Karoo Art Hotel

Peter Veldsman klink ‘n glasie met een van die gaste by die Karoo Art Hotel

Die eregas was Peter Veldsman! Die kos was voortreflik en daar is nog tot laat in die gesellige kroeg ge-oe en  –aa oor die smake en die herinneringe wat die smaakkombinasies losgemaak het.

Die hart van die dorp

Skuins oorkant die hotel is Magpie Art Collective waar versamelkraaie hul aan blinkgoed (en helder kleure) kan verwonder. Alles by Magpie – van teepotkandelare tot dekoratiewe voëlnessies, van versierings vir gloeilampe tot plafonvlinders en uitspattige staanlampe – word van herwinbare materiaal gemaak; hul kreatiwiteit laat almal wat instap in totale verwondering.

Loer by www.magpieartcollective.com

Soos jy met die straat af in die rigting van die NG-kerk stap, kan jy by The Hub Café Unplugged en House of Books inloer. The Hub is ‘n kuns- en koffiewinkel én ‘n internetkafee.

Een van die hotelgaste het met trane in haar oë vertel hoe ‘n pa daardie Saterdagoggend sy jong laerskooldogtertjie aan die hand binnegelei het. In sy hand was ‘n papier met instruksies waarvolgens sy haar skoolprojek moes doen. Die persoon aan diens by The Hub het dadelik alles waarmee hy besig was, agterweë gelaat en by haar gaan sit om vir haar te verduidelik hoe om met die rekenaarmuis te werk en hoe om die Google-soekenjin te gebruik.

Aan die oorkant van die straat is House of Books. Dié boekwinkel is ‘n skatkis vir boekwurms en bleeksiele.

Die boeke is só netjies opmekaar gestapel en in rye rangskik dat jy eers jou huiwering om daaraan te raak, moet oorkom. Hier is boeke der boeke en as jy met die boekhandelaar, Anton de Villiers, begin praat, neem dit ‘n tydjie voor jy jouself wegskeur. As jy eers hoor van ‘n swart Mercedes waaruit ‘n ou klim wat deur veiligheidswagte bewaak word en wat al die boeke oor sosialisme, kommunisme en rebelle uit die geskiedenis met een slag opkoop, is dit neusie verby. Jy wil nóg hoor.

Dit lyk selfs of Anton hartseer raak as te veel van sy boeke tegelyk opgeraap word. Teen sy pryse is dit ook nie ‘n wonder dat ‘n mens met armsvol daar uitstap nie. Ook nie as jy kyk na die uitgebreide versamelings op sy rakke nie.

Dis onmoontlik om met die bo-pad deur die dorp te ry sonder om meer as een keer af te trek. Met die verbyflits trek ‘n moddergalery, ‘n reuse-pampoen op ‘n geverfde wa en ‘n geel donkieskuur jou aandag. Dan praat ek nie eens van die ou petrol- en dieselpompe, die mallemeulerygoed en die lewensgrootte wit perde op toringhoë pilare by Diesel & Crème nie!

This slideshow requires JavaScript.

Die gebou waarop Mud staan, is Barrydale Handwewers se tuiste (www.barrydaleweavers.co.za). The Country Pumpkin is al van toeka se dae hier. Deesdae is net die boerpampoen op die wa oranje; vantevore het die hele gebou soos ‘n  Halloween-pampoen gegloei.

By Donkey Shed word iets van alles – geskenke, wegneemetes, koffie, plaasprodukte en plante – verkoop. Vir rugsakreisigers skink die miskruierkroeg, Dung Beetle Bar, ‘n dop.

Diesel & Crème het vandat hulle ‘n paar jaar gelede hul deure oopgemaak het, harte verower. Oor naweke sit mense van heinde en verre bankvas binne en buite.

Hier word jou oë en jou smaakpapille verlei. Die kroegstoeltjies is trekkersitplekke; outydse ketties word in ‘n Cobra-politoervertoonkas uitgestal en verkoop; ‘n versameling badeendjies loer vanaf die vertoonkas aan die oorkant.

Op die voorstoep staan ‘n muntstukoutomaathaas met lang ore wat tot by my middellyf reik. Waar die haas nou staan, was eers ‘n retro-winkelmannekyn met bo-armspiere soos wat die ghrieskuif van Sha Na Na, die gewilde TV-program van die laat sewentigers, gehad het.

By Diesel & Crème is daar elke keer iets anders om te sien terwyl jy deur ‘n melkskommel verlei word. By die sjokolademelkskommel word brokkies sjokoladekoek gemeng; pasop egter vir die melkskommel waarvan die naam, Chilli Bang Bang, jou al attent maak daarop dat dié rissies nie vir sissies is nie.

Honde drink nie bier nie, maar soms is daar een of twee wat ook hier by The Maker's Brew kom uithang

Honde drink nie bier nie, maar soms is daar een of twee wat ook hier by The Maker’s Brew kom uithang

By The Maker’s Craft Brewery ‘n paar deure weg kuier die dorpenaars en besoekers aan die dorp knus oor ‘n glas vlytbier of wyn. Op die eerste Vrydagaand van elke maand is daar lewendige musiek van ‘n verskeidenheid kunstenaars. Sorg dat jy vroeg opdaag om tafelsitplek te kry.

Op die gedenksteen van die NG-kerk in die middel van die dorp staan “Gelegd 28 Maart 1908 door Ds. W.J. Louw” en “Huis Gods – Poort des Hemels”.

Die dorp Barrydale – en die kos wat sinoniem aan die omgewing is – voel so ietwat na een van die poorte na die hemel.

Beleef die Barrydale-omgewing

Joubert-Tradauw Wingerde en Kelder is minder as tien minute se ry vanaf Barrydale. By hul R62 Alfresco Deli proe jy die ware Klein-Karoo. Beate Joubert, die trotse eienaar van Alfresco Deli, is bekend vir haar Karoo-tapas.

Beate bedien gul borde wat deur almal aan tafel gedeel kan word. Die borde lyk soos stillewes waarop vars vye, neute, beet met feta en kruie, basiliepesto, tamatierissiekonfyt, saadbrood, olyftapenade, vyepatee, ingelegte kwepers en tzatsiki met pampoensade pryk.

As jy eers eenmaal aan so ‘n bord gepeusel – of haar osstertbredie geproe het – kom jy keer op keer terug.

'n Knus atmosfeer binnein R62 Alfresco Deli

‘n Knus atmosfeer binnein R62 Alfresco Deli

Die wyne van die plaas word daarmee saam bedien. Twee van my gunstelinge is die Joubert-Tradauw Chardonnay en die Joubert-Tradauw Syrah.

Terwyl jy by die Karoo Art Hotel is, kan jy ook ‘n rieldansvertoning van 30 minute lank deur die Net-vir-Pret-rieldansers bespreek, ‘n bier- en wynproe doen, ‘n historiese staptog deur Barrydale meemaak, die Tradouw-pas met sy rotspoele gaan bekyk, gaan kyk waarom almal van die kroeg genaamd Ronnie’s Sex Shop praat, by Barrydale Kelder gaan wynproe, by Buffeljags foefieslaaid en in die Grootvadersbosch Natuurreservaat gaan bergfietsry.

Feesetes wat in 2019 by Karoo Art Hotel gehou is

  • Saterdagaand, 17 Augustus 2019: By ‘Die kruispad van koskulture’ kook meestersjef Johan Odendaal kos van die Arabiese woestyn en Indië met ‘n Suid-Afrikaanse kinkel daarby. ‘n Dieptegesprek oor die gebruik van speserye kom aan die einde van die aand aan die beurt.
  • Saterdagaand, 31 Augustus 2019: Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose, beloof ‘n aand van grasie en elegansie met geregte soos eendlewerpatee met muskatjellie en tarte tatin met gorgonzolaroomys.
  • Saterdagmiddag, 12 Oktober 2019: Die inwyding van die Muskadelmuseum vind plaas. Die ikoniese Peter Veldsman saam met die personeel van die Karoo Art Hotel en ‘n verrassingsbesoek van ‘n sjef of twee wat later onthul sal word, gaan die potte laat prut. ‘n Keur van Suid-Afrika se muskadelwyne word bedien. Peter Veldsman gaan tydens die inwyding van die museum die Ridders van die Muskadelstok, die gerekende muskadelmakers van Suid-Afrika, inhuldig.

Kliek op die skakel op die tuisblad hieronder om Peter Veldsman en die res van die kokke se volledige spyskaarte te sien: http://www.karooarthotel.co.za

3 comments on “Barrydale – Poort na die hemel

  1. Anna-Karien
    July 3, 2020

    How fabulous! Such a coincidence, we are going on a month-long retreat at Annatjie Reynold’s house in Graaff Reinet!

  2. Anna-Karien
    July 3, 2020

    I was going to make her a meal but now i feel intimidated!

  3. ilsez
    March 22, 2021

    Life is too short to feel intimidated, Anna-Karien! Everyone enjoys it if someone makes a meal for them.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 30, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .