ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

DONKERGAT SE DONKER GEHEIME

First published in Die Burger, April 2015

Vergete walvisstasie se donker geheime

Sliert wolk agter die vuurtoring

Sliert wolk agter Donkergat se vuurtoring

Die eerste walvisjagter in Suid-Afrika was niemand minder as die broer van Vasco da Gama, Paolo de Gama, nie. Terwyl hy saam met sy beroemde broer die seë bevaar het, het hy in 1497 by St Helenabaai naby Dwarskersbos probeer om ‘n walvis met ‘n ketting te vang. In die proses het sy boot gesneuwel.

So lees ek op die walvisjagtydlyn in Hugo’s Pos Menasie – slegs vir lede van die Spesiale Magte – op Donkergat.

Stille water, diepe grond

Nog lank voor Jan van Riebeeck voet aan wal in Kaapstad gesit het, het robjagters van Frankryk Schaapeneiland by Langebaan as hul hoofkwartiere gebruik. Dis waar hulle robvelle en walvisolie gestoor het.

Van Riebeeck was self lus om walvisjag aan te pak en het bote van Holland laat kom, lees ek verder. Sy planne het egter nie uitgewerk nie en op die ou end is daar eerder daarop gekonsentreer om robolie in plaas van walvisolie in die hande te kry.

Schaapeneiland het ook gedien as weiding vir skape wat na, hul vetgemaak is, weer aan die NOIK in Kaapstad terugbesorg is.

Sjeim, die arme walvisse

Min mense weet dat daar op Donkergat by Langebaan een van die grootste walvisstasies in Suid-Afrika was. Ander walvisstasies was onder andere by Hangklip, Bettiesbaai en Durban.

'n Foto op die walvisjagtydlyn te sien

‘n Foto op die walvisjagtydlyn te sien

In Junie 1909 is Donkergat Walwisstasie opgerig. Voor die Eerste Wêreldoorlog, het ‘n Noorweër, John Bryde, oppad terug van Antarktika by Donkergat aangedoen.

Hulle het hul fabriekskip, die Svend Foyn, van 3000 ton, by Meeuweiland geanker.

Twee harpoenskepe, die Frey en die Frig, is te water gelaat. Binne drie weke het hul 33 walvisse gevang.

Hierdie suksesvolle jag het Bryde oortuig om ‘n walvisstasie met drie skepe op Donkergat te begin veral aangesien die walvisse in Groenland skaars begin word het. Na hy toestemming hiervoor verkry het, het dit die begin van walvisjag in Suid-Afrika ingelui. John Bryde het wel voor Donkergat ook n walvisstasie by die Bluff in Durban opgerig.

In 1910 het Carl Ellefson sy eie walvisjagbesigheid by die nabye Salamanderbaai begin. Beide walvisjagters was baie suksesvol. In die afseisoen het hulle aangebly om hul bote en toerusting te herstel.

Vir die volgende sestig jaar is daar aan hierdie kus walvisse gejag.

In die sestigerjare was daar 340 werknemers by Donkergat Walvisstasie; daar was vyf harpoenbote en ‘n Cessna-vliegtuig wat gehelp het om walvisse uit te wys. Daar is jaarliks 3500 ton walvisolie uitgevoer.

Daar word vertel dat die hele Langebaan Lagoon rooi van die bloed was as daar die dag baie walvisse gevang is.

Walvisbiltong, walvis-steak en Weskusfrikkadelle gemaak van walvis- en varkvleis was gewild onder die plaaslike inwoners.

Walvisgetalle het bly daal en 1967 is die laaste jaar wat daar by Donkergat walvisse gejag is. 874 is in 1967 doodgemaak.

Vergane skepe

Neffens die tydlyn kan jy ook van die skeepswrak van die Meerenstein lees. Sy was ‘n Hollandse handelskip wat op 3 April 1702 met haar vrag van goud en silwer naby Jutten-eiland gesink het. 101 van die 200 mense aan boord het omgekom. Die wrak en ‘n deel van die vrag is in 1972 deur wrakduikers herwin.

‘n Minder bekende skeepswrak is die Nagel. Op 27 Mei 1709 was sy op anker voor die poshuis by Saldanha Buitepos. Die skipper en vier bemanningslede het land toe geroei om hul visnet op die strand heel te maak. Die stuurman en die meester was nog aan boord.

Toe dit donker word, het hulle ‘n lamp in die hoofkajuit aangesteek. Kort daarna het die skipper gesien dat die skip aan die brand was. So gou as wat hulle kan, het hulle na die skip geroei. Al wat hulle kon doen om die brand te probeer blus, was om met ‘n byl gate in die romp onder die waterlyn te kap. Hulle kon egter nie die skip red nie.

Die stuurman en die meester is na die Kasteel gestuur om die nuus aan die owerhede mee te deel. Hulle is onmiddellik in hegtenis geneem. Al wat oorgebly het, was die skeepsroer, ‘n paar ankers, enkele gewere en yster- en loodballas.

Die bokant van die vuurtoring

Die bokant van die vuurtoring

Beperkte gebied

Donkergat is al vir jare die opleidingsbasis van die weermag se Spesiale Magte, die Recces; dus kan die publiek nie self die ou swartwit foto’s op die tydlyn of die South Head vuurtoring wat oorspronklik in 1969 op Donkergat opgerig is, gaan kyk nie.

Veral vir faroloë (vuurtoringliefhebbers) wat graag al Suid-Afrika se vuurtorings wil besoek, is dit ‘n groot jammerte.

Die hoedjie oftewel lanternhuisie van die vuurtoring

Die hoedjie oftewel lanternhuisie van die vuurtoring

Die South Head Vuurtoring is 23 meter hoog; die huidige struktuur is in 2000 opgerig. Die onderste deel is wit en die boonste goudgeel. Die lanternhuisie, soos die bokant genoem word, is ook geel.

DSC_1488

Die vreugde van ‘n vuurtoring

Suid-Afrika se geel vuurtorings

·        Daar is net drie vuurtorings in Suid-Afrika wat geel of deels geel is.

·        Behalwe vir South Head, is Groenriviermond Vuurtoring verder noord op teen die Weskus en Cape Vidal Vuurtoring by St Lucia, KwaZulu-Natal die enigste ander twee.

Nothing like girls having fun!

‘n Besoek aan Donkergat

Luister en kyk na:
·        Red Earth & Rust se liedjie oor Donkergat by
    www.youtube.com/watch?v=ronT9EGrECg
·        Wees gewaarsku: dis nie vir sensitiewe kykers nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 18, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .