ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ek kan jou ‘n brief gee

First published in Die Burger, July 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Helaas, die dae van ‘n brief skryf, in ‘n koevert toevou en ‘n seël opplak, is amper heeltemal verby. Dis so min wat die groot lekkerkry van ‘n brief met ‘n handgeskrewe adres en ‘n vreemde stempel wat jou by jou posbus inwag, nog beleef word.

Híér kan jy nog ‘n brief skryf

Skryf 'n brief aan jou geliefde vanuit 'n pienk sinkplaathuisie

By Die Blikhuisie, ‘n sinkplaatgeboutjie op Philadelphia, is ‘n spesiale vertrek – in die eertydse kombuis van een van die oudste huisies op die dorp – ingerig en opgedra aan outydse briefskryf.

Hier skryf ons nog briewe...

Op een swartbord is daar ‘n speelse vraag geskryf: Verlang jy na iemand? En dan instruksies: Kies papier (of ‘n poskaart van die omgewing). Vat die vulpen. Skryf ‘n brief. Plak toe die koevert. Gooi jou koevert in die rooi posbus.

Op ‘n ander swartbord is ‘n gedig van W.H. Auden. Dis ‘n ode aan briefskryf – van dankiesê tot die bank se vensterkoeverte, van rekeninge én uitnodigings, van werksaansoeke en liefdesverklarings, en bowenal van skinderstories.

Muurskilderye van ou seels skep atmosfeer

Neffens die lessenaar staan ‘n ou tikmasjien om jou aan vergange se dae te laat terugdink. Muurskilderye van ou posseëls (deur Madelein Roets) roep herinneringe van die posman met ‘n bultende possak op sy fiets op.

Kies 'n paar ou seels uit die krapkol

Daar’s ‘n eensent-seël met twee rooi aalwyne, ‘n viersent-seël met ‘n aronskelk,  ‘n vyfsent- en tiensent-seël met reuse proteas, en ‘n eenrand-seël met ‘n strelitsia. Seëls wat twee en ‘n half sent gekos het, het ‘n dansende paartjie uitgebeeld. Laasgenoemde is uitgereik ter viering van die honderdjarige herdenking (1912 – 1962) van volkspele.

Vanuit ‘n krapkol kan jy ‘n handvol seëls – met hierdie en ander uitbeeldings – kies en koop.

Mooigoed met woorde

'n Ou poskantoor vervul 'n nuwe funksie

In Philadelphia se ou poskantoorgebou met sy lang, breë stoep word daar weliswaar nie meer briewe gepos nie, maar wel met woorde gespeel.

Destyds was daar ook ‘n telefoonsentrale in die poskantoor. Die gebou is in 1904 opgerig (die datum is nog op die gewel sigbaar) waarna dit in 1914 vergroot is. Toe het dit ook die Standard Bank gehuisves wat net een dag per week oop was.

Vir jare was tannie Annemarie Neethling die posmeesteres; sy is nou afgetree en haar skoondogter is deesdae in beheer van die posagentskap by die plaaslike hoekkafee.

Daar word vertel dat die gebou blykbaar op ‘n stadium die dorp se kliniek was. Daarna het die eienaar van die meul (tans De Malle Meul) en die handelshuis daar gewoon.

Die eertydse poskantoor huisves nou Elize Lourens Dekor waar Frans-geïnspireerde meubels geverf en verkoop word. Elize se tweede passie blyk Afrikaanse hartswoorde te wees.

Om ‘n kershouer krul woorde soos stampmielies, tarentaal, doekpoeding, krummelpap, waterblommetjies en droëwors. Vanaf ‘n muurhoutbord word “Sjoe!” uitgeskree. ‘n Handsak verklaar: Sit soos dassies in die son.

DSC_0252

 

 

Philadelphia se pragtige poskantoorgebou het mooi behoue gebly: die rooi posbusgleuwe is blink gepoets; die sinkdak en die broekieslace gee ‘n oudorpse gevoel weer.

Dis níé ‘n poskantoor nie, gehoor

Nee, nee, ons is definitief nie ‘n poskantoor nie, maar ons wás. Van buite kan ‘n mens dit nog glo, want ‘n allemintige bielie van ‘n afgetrede rooi posbus troon langs die deur uit.

Dit lyk maar net soos 'n poskantoor

Rooi posbusgleuwe is nog net so in die muur vasgemessel; twee telefoonhokkies – een groen, die ander blou – staan wag op die sypaadjie sowel as ‘n kleiner posbus wat steeds in gebruik is.

Van binne is daar egter geen teken dat ‘n mens eens hier ‘n telefoonrekening kon betaal of ‘n pakkie laat weeg en versend nie.

In stede daarvan skaf jy verehooftooisels, nagemaakte skedels, poppies wat dans as jy ‘n knoppie druk, leeuveltierterthoede, diskoballe, hasiehandsakke en hekspunthoede aan. Ook landsvlagkaftans, popkoppe met of sonder pruik, vlootpette en lang, goue aandhandskoene.

Sou jy soos ‘n brandweerman, superheld, Pippie Langkous of Vader Krismis wou aantrek, kan jy hier kom aanklop.

Dís nou poskaartmooi

Dis so mooi by dat jy terstond ‘n poskaart daarvandaan wil stuur. Of ‘n rits foto’s wil neem. G’n wonder hierdie restaurant heet Post Card Café nie.

Om daar te kom, ry jy met die prentjiemooie Jonkershoekpad langs. Voor jy nog by jou motor uitgeklim het, vergaap jy jouself reeds aan ‘n dam waarin die majestueuse bergpieke op ‘n mooi dag weerkaats. Met die omdraai kan jy net-net die torinkies van ‘n kasteel op die oorkantse berg raaksien.

Teug aan ‘n glasie wyn terwyl jy die natuurlike skoonheid om jou indrink. Daar’s ‘n dam met wilde ganse; daar’s ‘n poel; daar’s uitgestrekte groen gras; daar’s struike en druipende wilgers; daar’s ‘n berg voor en agter jou – en daar heers rus en vrede rondom jou.

Terwyl jy vir jou ontbyt, middagete of koek-en-tee wag (dit duur soms nogal ‘n rukkie veral as jy op die stoep sit), loop met die houtbruggie oor die water tot by die damhuisie.

Vir middagete is daar disse soos macaroni-en-kaas, varknektjops met koljanderpesto en aartappelslaai, Thai-kerrie en lam-en-tamatiebredie. Hou ‘n plekkie vir nagereg – daar is vele om uit te kies.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 10, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .