ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SOEK VIR MOLLY IN DUBLIN

First published in Rapport, July 2016

Bier, kultuur ontmoet hier

dit lyk nie of daar by hierdie werkersklub juis gewerk word nie

Dit lyk nie of daar by hierdie werkersklub juis gewerk word nie

Daar’s regtig vier seisoene op een dag in Dublin. En elke seisoen kom twee keer verby. Daar’s darem ook baie kroegies waar die Iere sing. En bier drink. En dis lank nie al nie.

Vanaf die lughawe na die Temple Bar-distrik in die kern van Dublin is dit grys. Nog gryser as dit reën.

HIER DRINK N MENS GUINNESS

Niks wat die oudste kroeg in Ierland – The Brazen Head, wat uit 1198 dateer – nie kan regstel nie. Teugend aan my eerste Guinness in Ierland – oe, met ‘n klawerblaar in die skuim – leef ek my in in hoe dit in 1198 daar sou gelyk het. Donker, koud. Lae plafonne in al die vertrekke. Vure wat brand. Hoe sou die mense gelyk het? Op ‘n onverklaarbare manier voel ek oombliklik tuis.

Tipies toeris vra ons die paartjie langs ons om ‘n foto van ons te neem. En toe is dit een helfte van die groepie musiekmakers. Ons raak aan die gesels en kort voor lank word ons geskuif na die beste sitplekke in die kroeg. ‘n Ierse liedjie-boek word entoesiasties in ons hande gestop ter voorbereiding van die musiek wat tienuur begin. Halfeen semi-slinger ons huis toe met ‘n Ierse volkswysie in ons bene en harte.

Oppad na The Brazen Head het ons verby nou straatjies net soos dit in Angela’s Ashes (deur Frank McCourt) beskryf word, gestap. Dis weliswaar ietwat skoner en die lewe makliker, net omdat ons al in die een en twintigste eeu is. Maar feit bly staan, elke huis het sy kruis, elke land sy probleme.

Dis toe nie ‘n cliché nie – baie Iere het rooi hare en sproete. En mense wie se stories in Roddy Doyle en McCourt se boeke vertel word.

ONS SOEK NOG GUINNESS

gesondheid in die rondheid!

Gesondheid in die rondheid!

Niks skrik avontuurlike Suid-Afrikaners af nie. Ons begin die oggend met die Guinness Brouery-toer. Jy kan nie ‘n meer gepaste plek – dit ruik selfs na hops – as die ou brouery self kry nie. Sowat van professionalisme en afwisselende uitbeeldings is ‘n plesier om te sien. Dis ‘n onbegeleide toer van vlak tot vlak tot jy eindig by ‘n panoramiese kroeg met ‘n 360˚ uitsig oor die hele Dublin. Ons eerste pint is deel van die toegangsgeld (vooraf bespreek en betaal) van sowat 16 pond –  Wille Willem spog met ‘n skuimsnor, Toet proes deur haar skuim en die uwe neem ‘n diep sluk. Saam met die skuimende pint kry ons ‘n perspeks-oog met ‘n druppel Guinness binne-in vasgevang.

KRISKRAS DEUR TEMPLE BAR

grafton is die inkopie-mekka-straat van dublin

Grafton is die inkopie-mekka-straat van Dublin

In Dublin kan ‘n mens na hartelus rondstap. Rivierlangs.  In Graftonstraat af – dis so ‘n Ierse St Georges-wandelhal met Europese winkels. ‘n Tradisionele Aran-trui by Dublin Woollen Mills naby die Ha’ Penny Bridge laat gou-gou my kredietkaart sing.

met die trap na bo waar 'n atmosferiese boekwinkel wag

Met die trap na bo waar ‘n atmosferiese boekwinkel wag

By die Winding Staircase Book & Coffee Shop is daar toe regtig ‘n kronkelende donkerhouttrap. Teen die mure is klein geskrewe bladsye uit ou boeke rond en bont geplak.

dis heerlik om in dublin rond te loop, selfs op 'n bewolkte dag

Dis heerlik om in Dublin rond te loop, selfs op ‘n bewolkte dag

Die Ha’ Penny (halwe pennie) Brug is een van die simbole van Dublin.

Die Dublinners gee graag vir hul simboliese standbeelde byname soos die “floozie in the jacuzzi” of die “whore in the sewer”; James Joyce is “the prick with the stick” en dalk die bekendste een, die standbeeld van Molly Malone oftewel “the tart with a cart”.

Niks kry klaarblyklik die Iere se humor onder nie. Behalwe vir Molly, is daar nog die Hoofposkantoor waar Plunkett en Connolly hulself in 1916 saam met die rebelle ingegrawe het en teen die Britse leër geveg het.

N OU BOEK EN ‘N LANG BIBLIOTEEK

Daar’s ‘n gewyde atmosfeer aan Trinity College. Die Book of Kells is een van die oudste boeke ter wêreld en is deur vier monnik-skrifgeleerdes geskryf. Vir ‘n totale boekwurm – soos ek – is dit oneindig fassinerend. So ook die gedetaileerde, goed uitgelegde inligting oor die ink (van insekte verkry), papier en metodes wat hul gebruik het.

Vandaar na die subtiel-verligte Lang Biblioteek (Long Library). Dit laat my siel sing. Só moet donkerhout-boekrakke lyk. Van vloer tot plafon. Gepraat van die plafon – dis ‘n hoë houtgewelfde plafon. Dun, elegante leertjies is teen die rakke gestut. Reuse swaar boeke staan regop op die grond. Aaa. Dit voel of dit nog mooier as die Book of Kells is.

NOG IS HET EINDE NIET

Die joviale kroegatmosfeer is deel van die sjarme van Dublin en deel van die Ierse lewenstyl. Baie Iere koop of woon in huise naby hul gunsteling kroeg (of stamkafee soos die Belge dit noem), net soos sommige Jode binne stapafstand van hul sinagoges woon. Daar’s egter ‘n donker kant hieraan – nog nooit het ek so baie dronk mans of verarmde mense in ‘n ontwikkelde land gesien nie. Ook nog nie sulke blind- en stomdronk mense nie. Laatnag lê middeljarige mans in slote en almal stap verby, ook maar skeel gedrink.

In sommige buurte hang die armoede in die lug, jy asem dit in – ‘n paar dekades gelede moes dit nog veel meer haglik gewees het.

‘N SONDAG SAAM MET DIE IERE

Ook vir ons word dit ‘n laat – maar meer gematigde – aand. Lyk my Dublin doen dit aan ‘n mens. Ons kry nêrens ‘n bloedpoeding-ontbyt nie; spek-en-eiers moet maar doen.

Vandaar woon ons ‘n diens in die Christchurch Katedraal by. Dis Doop-Sondag, dis heeltemal anders as waaraan ons gewoond is, en dis ‘n wonderlike knop-in-die-keel belewenis. Ons drie Suid-Afrikaners loop in gelid vorentoe om nagmaal by die altaar te ontvang en ons kyk met blink oë na mekaar. Die koor sing en af en toe speel die orrel ‘n aweregse deuntjie tussen die gewyde musiek deur.

Dis Sondag, maar na kerk kyk die Iere sokker. Ons begin met die meer eerbiedige tydverdryf van tee by Bewley’s Cafe. ‘n Bleek son skyn deur die loodglasvensters terwyl ons tee drink en roomkoek verorber.

Synde onaangeraak deur sokker, kyk ons winkelvensters; by Café on Seine drink ons ‘n Paryse mengeldrankie – dis darem noual later in die dag. Ons loer vinnig hoe Merrion-plein lyk; en ons kiek deure. Rooi, blou, lila, groen. Tot ‘n onverwagse reënbui ons deurdrenk. Dis die tweede keer dat dit in Dublin gebeur.

By Turk’s Head Chop House droog ons uit; neem foto’s van die mosaïekpilare, en drink‘n drankie wat in ‘n kênfroetfles bedien word. Dalk het ons êrens Ierse voorouers.

Dis tyd vir die lughawebus om ons te kom haal. ‘n Uur laat. Dalk het ons bestuurder ook sokker gekyk.

Sou jy gaan:

* Lees meer oor hoe dit was om dekades gelede in Ierland groot te word:  Angela’s Ashes en ‘Tis van Frank McCourt; The Woman who Walked into Doors, Paddy Clarke Ha Ha Ha en The Commitments  van Roddy Doyle.

* Vergewis jouself van wat jy by Brazen Head kan verwag: www.brazenhead.com

* Bespreek vooraf ‘n brouerytoer: www.guinness-storehouse.com/en

* Boekwurms sal hiervan hou: www.winding-stair.com/bookshop/ en www.tcd.ie/Library/bookofkells/

tyd om die reisdagboek op datum te kry

Tyd om die reisdagboek op datum te kry

4 comments on “SOEK VIR MOLLY IN DUBLIN

  1. Tannie Frannie
    January 29, 2019

    O ek het dit nou geniet, het nie self kans gekry om enigiets van Dublin te sien nie.

  2. ilsez
    February 6, 2019

    Ek voel ek’t self eintlik te min gesien. Sou ook baie graag die platteland wou besoek.

  3. Karin Malan
    March 17, 2019

    Dankie Ilze, ek groet jou op St Patricks day … nou heerlik gelees en jou fotos geniet en besef ons moet weer soos toeriste na Dublin kyk. Omdat ons vlugte baie keer daar vertrek kom ons gereeld daar maar bespuut al hoe minder en dis verkeerd.
    Ja daardie biblioteek is asemrowend en die boeke wat van groot tot klein gerangskik is.
    Was jy al in Belfast? As jy kom… so welkom by ons hoor.

    • ilsez
      April 29, 2019

      Dankie vir daai uitnooi na Belfast! Ek klim sommer nou op ‘n vliegtuig! Helaas, nie in die vooruitsig op die oomblik nie, maar ek sal onthou! Ek sou self graag weer daardie biblioteek wil sien. Ek sien julle rits verskriklik lekker rond – geniet wat ook al volgende op die reisprogram is.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 28, 2019 by in Europa and tagged .