ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Ziljoen om te sien en doen in Zimbabwe

First published in Die Burger, February 2018

Die son sak in Afrika

Die son sak in Afrika

Dit was voor die reënboognasie. Dit was voor die nuwe Suid-Afrika. Ons was jonk, sorgvry… en jeukerig om ons vasteland te verken.

Ons het ons nie twee keer deur ons Zimbabwiese studentevriende van Chivhu (146 km suid van Harare) laat nooi nie.

Lank gelede se eerste besoek aan Zimbabwe

Sak en pak is vier van ons Zimbabwe toe. Maak seker dat jy nie bruin weermagseephouertjies inpak nie, waarsku die ouens mekaar voor ons oop en toe op ons groot avontuur noordwaarts ry.

Ons staan lank in rye by Beitbrug waar ons vergeelde vorms invul. Ons vergaap ons aan die ruïnestad van Groot-Zimbabwe.

In die winkels is die rakke leeg – min het ons, en die Zimbabwiërs, geweet dat dit toe nog baie erger sou raak. In die bank staan ons lank in rye om geld te ruil.

Op die plaas aangekom eet ons ons knuppeldik aan beesfilet-en-room vir ontbyt. Ek sien hoe ‘n sog geboorte gee aan ‘n werpsel varkies wat lyk of hulle op polvytjies loop.

Ewe dapper – of is dit dom verby – duik ons kêrels in die Kariba-meer. Terwyl ons dan nou hier is, moet daar tiervis gespieshengel word. Ons twee doedies bak in die son in ‘n piepklein bootjie terwyl ons kwansius op die uitkyk vir krokodille moet wees. Wat ons moet maak as ons dalk die kroks gewaar, is nie duidelik nie.

By Hwange Nasionale Park word daar nog Wankie-plakkers (dit was die ou naam van die park) verkoop. Ons sien baie olifante!

Natuurlik gaan ons ‘n draai by die Victoria-waterval maak. Tussen ons tente snuffel vlakvarke.

Eendag gaan ons terugkom, belowe ons onsself toe die bakkie se neus weer suid mik.

Ons keer jare later terug na Zimbabwe

Weliswaar het die terugkeer baie langer geneem as wat ons gedog het dit sou. Die tyd het mos maar ‘n manier om jou te kierang en die politiek in Zimbabwe het ook vir onvoorsiene – of dalk nie – omstandighede gesorg.

Pedaaltrap op die wal van die Kariba-dam

Pedaaltrap op die wal van die Kariba-dam

Met groot opgewondenheid werk vier van ons – twee van die oorspronklike groep en twee wat mekaar net so lank ken, maar wat nou Zimbabwe vir die eerste keer gaan besoek – ons roete uit.

As ons deur Kimberley ry – en daar oornag – kan ons die Groot Gat vir die eerste keer sedert ons kinderdae weer sien. So beplan, so gedaan.

Ons ruim ook tyd in vir ‘n besoek aan die Kimberley Mynmuseum en vir twee kroegkuiers: by Star of the West (sedertdien toegemaak) en die Halfway House Pub.

Van hier af loop ons roete deur Francistown in Botswana. Ons ry Zimbabwe deur die Plumtree-grenspos (90 km van Francistown) binne. Ons keuse het op Plumtree geval na verskeie mense ons sodanig aangeraai het aangesien min mense hierdie roete volg en dit sodoende baie tyd en frustrasie spaar.

Ons eerste aand in Zimbabwe spandeer ons by die Orange Grove Motel in Chinhoyi (112 km noord van Harare).

Die volgende dag sukkel al vier van ons om ons opgewondenheid oor Mana-poele waar ons vyf nagte gaan spandeer, in toom te hou.

Ons stop aan die buitewyke van Harare om ons proviand aan te vul. Die winkelrakke is voller – sover dit basiese produkte betref – as wat ons verwag het.

Kaas blyk so waardevol as edelgesteentes te wees: klante hanteer nie hul verkose blokkie kaas tot hulle klaar daarvoor betaal het nie; die winkelassistent dra self die Cheddar vir ons braaibroodjies van die kaastoonbank na die kassier.

Die stalletjieverkopers loop oor van vriendelikheid

Die stalletjieverkopers loop oor van vriendelikheid

Soos wat ons deur verskillende dorpe ry, waai die Zimbabwiërs en wys duime op. Toerisme en voertuie met Suid-Afrikaanse nommerplate beteken geld wat die land binnekom en dit het die land broodnodig. Die knop in my keel raak al groter.

Mana-poele is manjifiek

Die volgende vyf dae by Mana-poele Nasionale Park waar ons op die rivieroewer kamp, oortref ons wildste verwagtinge. Ons hou later op met tel hoeveel olifante ons op ons daaglikse wildritte sien – van kleintjies wat aan hul ma’s se sterte vashou tot troppe wat in modderbaddens baljaar. ‘n Alleenloper-olifantbul laat almal asem ophou as hy laatmiddag deur die kamp drentel.

Bebloede wildehonde wat kortstondig om ons voertuig maal, laat óns omtrent so opgewonde as wat húlle na hul jagtog is.

Toe ‘n leeu een aand teen skemer nie te ver van ons af nie, brul, hardloop ons vriende se spruit dwarsdeur die muskietnet van hul daktent. Dit kom nou daarvan as jy voor die kinders vertel van ‘n kampeerder wat, terwyl hy by ‘n kamp in Mana-poele gestort het, deur leeus aangeval is en dit nie oorleef het nie.

Dit help ook nie as die seekoeie met hul logge liggame uit die rivier klim om grassies op die wal te kom vreet nie. Die nagwag wat klippies na hulle gooi om hulle van die tente weg te hou, boesem nie veel vertroue in nie.

Voor ons gaan inkruip, sien ons die hiënas se oë agter ons glinster van waar hulle wag om iets te kom aas.

Vlakvarke en olifante by Kariba

Traag groet ons Mana-poele en vertrek na Warthogs (www.warthogs.co.zw) net buite die dorpie Kariba. Kamp is lekker, maar ‘n goeie kroegkuier – met braaihoender – is nie te versmaai nie.

Jy kan – of liewer móét – by Warthogs gaan oorbly; al is dit net om die middagmigrasie van die olifante te sien. Ons het vooraf by ander reisigers daarvan gehoor, maar dis toe nog soveel meer indrukwekkend om ‘n trop te sien wat stadig hul pad deur die chalets en kampeerplekke maak. Hulle is so naby dat jy aan hulle sou kon raak hoewel niemand dit natuurlik (moet) doen nie.

Nadere kennismaking met 'n vlakvark

Nadere kennismaking met ‘n vlakvark

As jy iemand ken wat iemand ken, huur jy ‘n huisboot wat ooreenkomste met n bouvallige murasie toon. As jy van beter weet, bespreek jy ‘n huisboot by ‘n agentskap wat hierin spesialiseer.

Blikboot of te nie, niks doen afbreuk aan ons Kariba-ondervinding nie. Vier kameras kliek gelyktydig as ons verby vissermanne vaar wat hul nette oopsprei of as ‘n roofvoël in ‘n dooie mopanie- of hardekoolboom gaan sit.

Nog 'n tiervis op die boot

Nog ‘n tiervis op die boot

Die mans vang tiervis, die vrouens lees; ek leef my moeilik in Cancer Ward van Aleksandr Solzhenitsyn in, want die Afrika-tonele rondom my betower my voortdurend. Almal drink jenewer-en-tonikum as die son die uitspansel en die dam oranje en goud verkleur. Ons gaan aan wal by ‘n lodge of twee om op hul stoep drankies te geniet.

Terug aan wal bereik ons net-net konsensus om vanaf Kariba met die meer afgeleë Binga-pad langs te ry hoewel van die inwoners ons afraai weens die toestand van die pad en die tyd wat dit in beslag sal neem.

Op die ou end is die pad begaanbaar genoeg – selfs van die plaaslike busse ry hierlangs – én baie mooi. Desondanks die feit dat dit afgeleë is, is daar orals kleiner en groter skole waar die leerlinge in netjiese uniforms tydens pouses op die skoolgrond speel.

Haas jou na Hwange

Na ‘n dag se rus vertrek ons na Hwange Nasionale Park waar ons ‘n paar nagte bespreek het.

Die honderde olifante – dis létterlik honderde – wat vroegoggend en laatmiddag om die watergate saamdrom, sal my vir ewig bybly. Ook die vriendelike diens van die personeel wat agteroor buig om jou verblyf so gemaklik moontlik te maak; al word hulle nie eers altyd deur die staat betaal nie.

Jy kan nie Zimbabwe besoek sonder om die Victoria-waterval (sowat 100 km van Hwange) te besoek nie. Dié waterval is 108 meter hoog en 1708 meter op sy breedste.

Na die tyd syg ons in gemakstoele by Stanley’s Bar by die Victoria Falls Hotel neer en bepeins die realiteite wat Zimbabwe in die gesig staar.

Kom ons ry sommer hiervandaan Caprivi (oftewel Zambezi-distrik), besluit ons op ons laaste aand in Zimbabwe terwyl ons om die kampvuur sit. Waarom dan nou nie? Rondom ons steun vlakvarke in eenstemmigheid terwyl hulle uintjies uitgrawe. Dis seker die kleinkinders van die vlakvarke wat ons jare gelede teëgekom het…

Dis ons kontinent. Ons hoort hier. Hierdie vasteland bied so baie om te sien en te beleef. Klim in jou kar en ry.

 

 

2 comments on “‘n Ziljoen om te sien en doen in Zimbabwe

  1. selmaohlsson
    August 7, 2019

    Wow!!! I so enjoyed this! what a blast from the past!

  2. ilsez
    August 9, 2019

    The first time we went to Zim was when we were still in varsity. Subsequently I’ve been back a few times.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 7, 2019 by in Afrika and tagged .