ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Magiese Morokko

Published in Die Burger, March 2010                              

Kaneel, komyn en kardamom in Marrakesj.Neustoeknyp en vlak asemhaal by die leerlooiery in Fes.Souterige, windverwaaide see en vars(erige) vis op die kaai van Essaouira.

“The first condition of a foreign country is to smell it.” – Rudyard Kipling

Morokko het soveel geure, soveel kleure, soveel belewenisse.

Daar is ras el hanout,’n mengsel van sowat 20 maar soms tot 100 speserye, kruie en gedroogde bessies. In pastilla (‘n baklava-rige soet duifpastei) proe-proe jy eers kaneel, dan heuning tot jou tande op fyn amandels knars en dit terwyl jy tussendeur die sagtheid van fyn draadjies duifvleis wat aan Maleise denningvleis herinner op jou tong voel. Keer op keer betrap jy jouself dat jy dink daar is ‘n roostuin om die hoek en dan herinner jy jouself aan hul mildelike gebruik van rooswater.Ek onthou die reuk van henna gemeng met suurlemoen en swartpeper wanneer laasgenoemde twee bestanddele gebruik word om te verhoed dat die roeserige henna op jou hande verbleik.

En dan orals, orals, die geur van mentblare wat in talle glasies suikersoet tee bedien word. Nie net drie of vier blaartjies soos wat‘n ordentlike Westerling dit sou doen nie, maar handevol binne-in nou glasies ingeprop vir ‘n oorweldigende neus-en-tongsensasie. In Fes dra die donkies stapels ment wat weerskante afhang deur die small stegies.

B’lach b’lach  roep die donkiedrywers en ons druk ons lywe plat teen die symure sodat die donkies verby kan skuifel.

Daar is die vuilpienk stadsmure van Marrakesj, die amper-Griekse wit en blou argitektuur van Essaouira en die tradisionele baksteenrooi kelims met spikkeltjies wit en swart. Daar is die gewaste juweelkleur weefdrade wat op dakke hang en mosaïekfonteine met honderde teëltjies in vuilwit en ‘n kaleidoskoop van bloue en groene.

een-van-marrakesh-se-bekende-minarette

So baie om te onthou. Agterop motorfietsies tussen turksvybosse deur en verby mentlanderytjies. Dik kettings wat ons treinwa toesluit sodat ons as toeriste nie “gehinder” word nie. Die eerste proe van harira-sop, ‘n amperse bredie en soveel geuriger as my ma se bone-sop. Ooievaarsneste op los pilare op ‘n vuilerige plein waar metaalsmede lanterns maak.

Óf jy gaan om foto’s te neem, een van die top drie cuisines in die wêreld te probeer, baie en goedkoop inkopies te doen, óf net om te belééf – Morokko bied dit als.

Sonverbleikte vuilpienk geboue in Marrakesj – kliek. Blou, wit en groen mosaïekfonteine met ‘n erdebekertjie strategies geplaas vir dorstiges – kliek. Kelims wat oor balkonne hang terwyl gekopdoekte vroue uitklop dat die stof so staan – kliek.’n Visserman wat plat gestrek op bruin visnette slaap met kobaltblou bootjies reg rondom hom – kliek.

By Argana wat neerkyk op Djemaa el Fna-plein eet jy pastilla met duifvleis, neute en heuning terwyl gelukkiger duiwe bo-oor jou kop vlieg. Op die plein self drink jy lemoensap – varser kan jy nie kry nie – by een van die sowat sestig identiese stalletjies. Die aangrensende stalletjies verkoop soet, uitgeswelde dadels en neute. As die son sak, pak die sap-stalle op en rye en rye 4-tafeltjie buitelug-restaurante pak uit en slaan op. Klein slakkies in waterige knoffelsous. Grillerige skaapkoppe,’n Morokkaanse smiley.

Geurige olywe,babaghanoush(eiervrugpatee),saffraanhoender, murgpampoentjies met chermoula (‘n nat aansmeerpasta met verskeie kruie en speserye) en die lys hou net aan en aan.

Couscous is natuurlik die stapelvoedsel.Soms word dit bedien met kiewe-insuig gepreserveerde suurlemoen. Ryk en geurige tagines (lam, bief of hoender) word bedien in kegelvormige keramiekbakke ook genoem tagines.

 Die souks verlei jou met hul ware. Kelims, insteekskoene wat hul babouches noem, broekielace-patroon lanterns, geglasuurde erdebakke in petrolblou of vurige oranje of onverwagse lemmetjiegroen, sterpatroon pouffes of argan-olie van ‘n boom wat nét in Morokko groei. Daar is so baie wat jy móét hê, en net 20 kg wat in jou tas kan gaan. Dan maar afsit poskantoor toe en terugpos en insh’allah sal dit hier aankom. En dit het! Selfs die sterlamp was ongeskonde.

Meer nog as die tien paar babouches wat ek gekoop het, bly die belééf van Morokko my by. Kabbelende water in die Majorelle-tuine met ‘n huis wat aan Yves St Laurent behoort. Teugies amandelmelk by een van die dakkafees omdat ek aan die begin te bang vir die slangbesweerders op Djemaa el Fna-plein was.Wat lyk na‘n mini-Komodo-drakie in ‘n voëlhokkie by ‘n toordokter se stal. By ‘n straatkafee waar die Morokkane uithang, is dit hartverwarmend om te sien dat die straatkinders toegelaat word om stil-stil te kom sit en die oorskietkos van ‘n vorige tafel te eet.

Jy kan nie Morokko toe gaan en nie Marrakesj by jou toerprogram insluit nie. Op Djemaa el Fna het tyd stilgestaan. Die tradisie van mondelingse oorvertel van stories leef voort en Morokkaanse mans staan in kringe en verluister hulle. Min vroue verkeer sosiaal in die openbaar. Betosselde ou mans skink koue water uit langtuit koperkruike. Met my eerste besoek was daar nog sogenaamde tandartse wat wragtig tange vashou en op die plein gehurk wag vir vrottand-kliënte. Met my tweede besoek vier jaar later het ek hulle nie meer gesien nie.Ongelukkig was die apies wat bollemakiesie aan leibande slaan, nog steeds daar. So ook kobras in mandjies asof uit kinderstorieboeke, tesame met hul getulbande eienaars.

Verdwaal sal jy verdwaal in Marrakesj se souk; dus maak jou gereed vir ‘n lekker verdwaalsessie. As jou pakkies te veel raak of hongerpyne begin knaag, vra jy op elke hoek vir iemand anders watter kant toe. Die refrein van Djemaa el Fna gepaard met gebaretaal sal jou weldra weer op die plein uitbring.

Fes voel soms na die kleinboetie van Marrakesj. Stap deur Bab Boujeloud, die reuse-ingang in die ou stadsmuur en Fes voel weer ouer as Marrakesj. Stap net‘n paar tree en die winkeltjies laat Fes nuwer vertoon. Verloor jouself in die doolhof derduisende straatjies en jy is weer oortuig Fes móét die ouboet wees.En so is dit ook: Fes staan bekend as die bes bewaarde Middeleeuse stad in die Arabiese wêreld.

In die nuwer, meer oninteressante deel van Fes drink ons sterk koffie eenkant op die sypaadjie by Zanzibar Café. Die mans loer na ons; nêrens is ‘n ander vrou in sig nie. Gelaai met kafeïen en energie gaan soek ons die leerlooiery in ou Fes. Seuntjies hardloop voor ons uit om die pad te wys na die hoeveelste verkeerde afdraai. Ons ruik die plek voor ons dit sien. Kleigate met turkooiswit duiwemis vir die wasslag van die velle.’n Werker klim skouerdiep binne-in. Dan liewer die kleigate langsaan wat met dieprooi of donkerbruin kleursel gevul is. Hier is sekerlik nie vakbonde wat werkskondisies hanteer nie…

fes-se-leerlooiery

Vandaar na Ali Baba se winkel waar sy naam voorwaar sy voorkoms gestand doen. Dan lyk sy winkel boonop ook nog soos ‘n oorvol grot.

‘n Hanetree daarvandaan henna ‘n vrou ons hande en enkels en maak ons op ‘n plat dakkie sit terwyl dit droog word.

‘n Plaaslike bus wat al beter dae geken het, neem ons na Essaouira. Dis ons eerste kennismaking met die kus. Ons sien elemente van die binneland soos kelims teen die mure, net hier is die mure wit in plaas van verbleikpienk of woestynbruin. Die hoofpleintjie het blou hortjies, deure en vensters en blou-en-wit streepsambrele.

Genoeg, maar nie te veel, reisigers het al Essaouira ontdek – van Jimi Hendrix tot Winston Churchill as ‘n mens die skinderstories kan glo. Die een boetiekhotel is mooier as die ander. Roosblare dryf in fonteine. Banke waarin jy kan sitlê en eet, is oorgetrek met eksotiese materiale. Op elke derde trap wat na bo kronkel, staan ‘n lantern en in nisse in die muur staan tradisionele kruike. Ons verlustig eers ons oë voor ons ons smaakpapille laat oorrompel. Ek eet een van die lekkerste geregte van my lewe in die binnehof van Dar Loubane.

Terugkeer sal ek moet. Nie net om nog babouches te koop nie, maar iemand het nou die dag ‘n e-pos oor ‘n blou en wit bergdorpie,Chaouen, gestuur en dit voel of die plekkie smeek om gesien te word. My ras el hanout raak al minder omdat ek so gereeld Morokkaans kook. Van Merzouga kan jy die woestyn in op ‘n kameel se rug…

Tot dan, verlustig ek my in die geur van vars ment. Dit roep die herinnering van bondels ment op ‘n donkie se rug in Fes op.

As jy voor my daar kom, vergeet van Tangier en Casablanca. Die buitewêreld het al te veel daar ingesypel en die betowering is verwater.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 2, 2017 by in Afrika.